PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 24 June 2011 12:53
Untitled Document

Elsabé Maré

Cullinan se stasie is bekend as ’n gewilde toeristebestemming vir die historiese stoomtreinritte wat na dié dorp aangepak word. Die geskiedenis van die geboutjies rondom die treinspore dateer meer as ’n honderd jaar terug. Premier Myn bestaan vanaf 1903 en op vroeëre beplannings van die myndorp word reeds verwys na die gedeelte wat gereserveer was vir die stasie en treinspoor.


Dié 1904 mynuitleg wys die reserwe waar die stasie en spoorlyn gebou sou word

Die Cullinan stasie se bouwerk het in 1906 begin en is in 1907 voltooi. Soos die ander sinkhuise in Cullinan, is die materiaal vir dié geboue ook van Skotland bestel, hier aanmekaar gesit en aan die binnekant met songedroogde bakstene toegebou.


Die aansluiting van die treinspoor van Premiermyn na die Pretoria-Delagoabaai-roete

Die oorspronklike stasiegebou en perron word vandag as restaurant gebruik. Oorkant die treinspore staan die destydse kaartjieskantoor, wat nou in vier gedeel is en bestaan uit ondernemings. Noord van die gebou is die toekase stasiestoor wat ook in ’n koffiedrinkplekkie omskep is.


In die Cullinan Hotel hang die plan van die stasie reserwe

Suid van die kaartjieskantoor staan drie oorspronklike huise wat in dieselfde tydperk as die hotel, rondom 1905, gebou is. Die eerste huisie was bewoon deur die spoorwegbouer, die volgende een was enkelkwartiere, en die laaste een die stasiemeester se huis. Vandag is dit omskep in ’n kunstenaar-beeldetuin en woning, ’n kontrei koffiewinkel en gastehuis.


Die stasiemeester se oorspronklike huis

Die myn se passasierstrein was vanaf 1906 in diens. Die eerste stop was Rayton-stasie, wat Cullinan destyds met die Pretoria-Delagoabaai roete verbind het. Daardie jare kon kinders net tot standerd ses in die Cullinan-skool vorder en moes dan met die myn se passasierstrein Pretoria toe ry.


Die ou kaartjieskantoor is in die agtergrond

Hulle het by Rissikstraat-stasie afgeklim en vandaar na Afrikaans Seuns- en Meisieshoër en Pretoria Boys en Girls High geloop. Later is die passasiersdiens gestop en skoliere het met ’n kortpad deur die veld na Rayton geloop om die aansluiting na Pretoria te kry.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger