Volstruise het eeue-lange verbintenis met mense PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 24 June 2011 14:51
Untitled Document

Deesdae het bykans elke twee de plot in die Bronberg-gebied ’n volstruis wat wakker wagstaan, of is dit nou wagdraf rondom grensdrade, om indringers af te skrik.

Met die vinnigste landspoed van alle voëls, 65 km per uur, is daar nie ’n boef wat vir dié wag-voël sal kan weghardloop nie. Sy skop is iets om te vrees en kan ’n mens se dood veroorsaak. Gelukkig kan volstruise se bene net in een rigting buig en hy kan slegs vorentoe skop. Dié voël het ’n aantal vreemde gewoontetjies, waarvan klippe sluk een is. Blykbaar doen hy dit om te help met die vertering van kos. ’n Volwasse volstruis dra gewoonlik omtrent 1 kg klippies in sy maag rond.


Volstruisvere was hoogmode in dié 1820 hoede
Foto: Wikipedia

Van al die mites en legendes rondom volstruise is die bekendste een volgens die kenners klaarblyklik vals: Volstruise begrawe nie hulle koppe in die sand nie.

Mense se verbintenis met volstruise strek so ver terug as 60 000 VC. Tekens is in die Kalahari gevind dat volstruiseiers sedert daardie tyd as waterhouers gebruik is. Eierdoppe waarop simbole gegrafeer is, dateer terug na die middel steentydperk. In Mesopotamië en Egipte word volstruise reeds 5 000 jaar lank afgebeeld. ’n Standbeeldjie van Arsinoe II van Egipte wat op ’n volstruis ry is in ’n Egiptiese graf gevind.

Dit is dalk dié lang verbintenis wat maak dat volstruise wat hans grootgemaak word, hul hofmaak-dansies nie vir ander volstruise sal uitvoer nie, maar vir mense. Dié is ’n redelike ingewikkelde dans waar die haan vlerke klap en die hen met hangvlerke in sirkels rondom hom beweeg.


Vrouens het selfs op volstruise ‘side-saddle’ gery
Foto: National Geograhic

Natuur
In die natuur lewe volstruise meestal in nomadiese groepe van tot 50 voëls wat deur ’n hoofhen gelei word. Hane kompeteer en die wenhaan word toegelaat om met al die henne in die omgewing te paar, maar hy vorm net met die dominante hen ’n langdurige verbintenis.

Al die henne lê hulle eiers in een gemeenskaplike nes, ’n eenvoudige put van 30 tot 60 cm diep en drie meter wyd. Die dominante hen lê haar eiers eerste en as dit tyd is om die eiers toe te skrop, sal sy die swakker henne se eiers uitkrap tot daar net ongeveer 20 eiers oor is.


’n Karretjie word in 1911 deur ’n volstruis getrek
Foto: Wikipedia

Volstruise lê die grootste eiers van alle voëls maar, relatief tot die grootte van ’n volwasse volstruis, is hulle eiers die kleinste in die voëlryk. Die eier is gemiddeld 15 cm lank, 13 cm wyd en weeg 1,4 kg, meer as 20 keer soveel as ’n hoendereier.

Die hen broei bedags en die haan snags. Hul kleure word sodoende ingespan om die nes te kamofleer – die bruin hen wat soos die sand lyk en die swart haan wat bykans onsigbaar is in die nag. Eiers broei ná 35 tot 45 dae uit.


Die ingewikkelde paardans
Foto: Wikipedia

Grootste
Volstruise is die grootste spesie in die voëlklas en die enigste oorlewende spesie van die familie, Struthionidae, en die genus Struthio. Die volstruis, Struthio camelus, se wetenskaplike naam is van die Griek se strouthokamelos, wat as ‘kameelmossie’ vertaal kan word.

Sommige kenners sê die ‘kameel’ deel van die naam verwys na die voël se lang nek, terwyl ander sê dat dit na die woestynagtige dele waarin volstruise voorkom, verwys of die feit dat hulle, soos kamele, vir lang rukke op metaboliese water kan oorleef. Hulle Afrikaanse naam is ’n omgekeerde vereenvoudiging van die Nederlandse woord ‘struisvogel’.

Volstruise is inheems aan die woestynagtige gebiede van Afrika, maar is besonder aanpasbare voëls wat kan lewe in toestande wat wissel van baie koud tot tropies warm. Hulle kan vir verskeie dae sonder water oorleef, maar as water geredelik beskikbaar is, drink hulle gereeld en is lief daarvoor om te bad.


’n Volstruis-eier in vergelyking met hoendereiers

Benut
Min vee kan so deeglik benut word soos die volstruis. Hy kan gebruik word vir sy vleis, vel, vere, vet, eiers en volstruise word selfs deur jokkies in wedrenne gery. Volstruisvleis lewer net sowat die helfte van die kilojoules van beesvleis en is laag in vet en cholesterol.

Volstruis-boerdery het egter in April weer ’n knou gekry. Suid-Afrikaanse volstruis-uitvoere na die Europese Unie is opgeskort nadat voëlgriep by voëls in die Wes-Kaap opgemerk is. Wêreldwyd is verreweg die meeste volstruisprodukte, sowat 75%, afkomstig uit Suid-Afrika.

Sowat 60% van die inkomste uit volstruisprodukte kom uit volstruisleer, wat gebruik word vir die maak van handsakke, jasse en skoene. Volstruiseiers is in groot aanvraag vir die dop wat in ornamente, juwele en aandenkings gebruik word.

Blykbaar kan volstruise se beensenings ook in mense ingeplant word, die kornea kan op die menslike oog oorgeplant word en breinbestanddele word nagevors vir moontlike gebruik in die behandeling van Alzheimer.


Volstruis-kuiken

Boerdery
Volstruise kan in troppe aangehou word, maar vir teeldoeleindes is groepe van een haan en twee henne ideaal. So ’n groepie benodig 0,25 ha grond, met 1,7 m of hoër omheining. Die kamp moet verkieslik langwerpig wees sodat die voëls oefening kan kry.

Volstruise begin op twee tot drie jarige ouderdom lê en het ’n produksieleeftyd van omtrent 30 jaar.

Tog, weens onvrugbare eiers of kuikenvrektes, lewer slegs die helfte van die eiers wat gelê word op die ou einde voëls van slaggroote. In hulle eerste maande is kuikens vatbaar vir koue, veral in reënweer, omdat hulle vere nie natuurlike olies bevat wat hulle teen water beskerm nie.

’n Broeigroep van drie voëls behoort tussen 30 en 50 volstruise te lewer wat op een-jarige ouderdom geslag kan word. Op dié ouderdom behoort die volstruis 100 kg te weeg, maar net 30 kg daarvan sal vleis lewer.

As die broeigroepie van drie voëls binne ’n jaar 40 kuikens lewer, kan dié kuikens as slagvee in die komende jaar 1 800 kg vleis, 50 m² leer en 36 kg vere lewer. As ’n mens dit vergelyk met beesboerdery lyk die stasistieke so: ’n koei lewer jaarliks een kalf waarvan 250 kg vleis en 2,7 m² leer verkry word.


’n Volstruis resies in die Oudtshoorn-distrik

 

© 2019 Die/The Bronberger