Wie is die brandstigers? Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 24 June 2011 14:40
Untitled Document

In hierdie uitgawe dra ons (weer) ’n artikel oor veldbrande en die voorkoming daarvan. Ons doen dit (weer) omdat dit brandseisoen is en omdat veldbrande elke jaar groot en soms onherstelbare skade in die Bronberg-gebied aanrig. Ons doen dit omdat brande tot die grootskaalse uitwissing van die brose plant- en dierelewe in ons mooi gebied lei en ook menselewens in gevaar stel.

In die artikel op bl. 12 wys ons jou daarop dat jy tronk toe kan gaan as jy nie reeds in die begin van Junie voorbrande gemaak het nie en ’n brand sou oor jou grond beweeg. Al het die brand nie op jou grond begin nie, sal jy nog in die sop wees. Ons noem dit dat die Brandwet, anders as die norm, jou as skuldig beskou totdat jy jou onskuld in die hof kan bewys.

Dit is terloops nog nie te laat om daardie brandstroke nou te maak nie. Die artikel spel dit uit dat die Brandwet allerlei vereistes aan jou stel oor hoe om voorsorg teen veldbrande te tref en ook hoe om brande in jou gebied te beveg. Die voordele van ’n brandbeskermingsvereniging in jou gebied en die wenslikheid daarvan om aan só ’n vereniging te behoort, word beklemtoon.

Dit alles in die artikel op bl. 12. Ons hoop is dat jy die artikel ter harte sal neem en jou deel sal doen om die brandgevaar in die gebied hok te slaan. Wat nie in die artikel aangeraak word nie, is die vraag oor wie en wat jaar na jaar vir die vernietigende veldbrande in ons gebied verantwoordelik is. Wie is die skuldiges?

Van die sondaars wat tradisioneel die vinger gewys word is: Onverantwoordelike rokers, onverantwoordelike en aangeklamde vleisbraaiers, konka-vure en oop vure teen die koue en kwaadwillige brandstigters.

Maar wie is hierdie brandstigters? Ja, dit gebeur wel dat ontevrede werkers en moedswillige inwoners van plakkerskampe tot brandstigting kan oorgaan. Maar ervaring het geleer dat die grootste gros brandstigters in ons gebied veel nader aan die huis lê: Dit is onkundige en dikwels arrogante hoewe-eienaars wat voorbrand wil maak of die veld om hulle huise ‘mooi’ wil maak en dit is ons kinders.

Te dikwels gebeur dit dat nuwe intrekkers in die hoewegebied (nie noodwendig hoewebewoners nie) voorbrand maak in stormsterkte wind sonder die nodige toerusting en mannekrag om ’n brand in toom te hou. Nuwe intrekkers maak hulle ook gereeld skuldig aan brandstigting as die veld om hulle nuwe wonings ‘skoon’ gebrand word sonder enige in-ag-neming van die moontlike gevolge.

Hierdie seisoen sal baie brande in die Bronberg-gebied, soos elke vorige jaar, weer deur kinders gestig word. En al dink jy dat jou kinders ‘nooit so iets sal doen nie,’ sal hulle wel bes moontlik as die ernstige gevolge van dié speletjie nie voortdurend deur ouers beklemtoon word nie. Dis ’n deurlopende opvoedingstaak waaraan kinders en grootmense voortdurend onderwerp moet word.

 

© 2020 Die/The Bronberger