Vervalle delwersbegraafplasie vertel verhaal van armoede Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 19 May 2011 15:40
Untitled Document

’n Eenvoudige delwersbegraafplasie by Bynestpoort buite Cullinan dui aan dat delwers vir dekades naarstiglik in dié gebied na diamante op soek was. Hoekom is hulle toegelaat om langs die myn te delf en wat het hulle hier gevind?

Die antwoorde vertel ’n verhaal van die depressiejare en armoede, maar ook van een van die grootste diamante wat ooit deur ’n delwer gevind is.

Volgens Martin Knoetze het die Bynestpoort begraafplaas vir delwers ontstaan voor die diamantmyn bestaan het. Die plaaseienaar het ’n stuk van sy grond aan die delwers afgestaan om hul dooies te begrawe.


Ingang na die begraafplaas
Foto’s: Martin Knoetze

Martin se foto’s van en inligting oor dié grafte vorm deel van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se elektroniese databasis. Een van die vroegste berigte van diamant-ontdekkings in dié gebied dateer terug na 1871 toe ’n steen van oor die 4 karaat op ’n plaas gekry is. Later is diamante op die oewers van die Elandsrivier en verskeie ander strome in die omgewing gevind.

Thomas Cullinan het vroeg reeds op Willem Prinsloo se plaas, waar die Cullinan diamantmyn vandag is, begin prospekteer, maar Willem het geweier om te verkoop.

Thomas het ’n diamant in spoelgrond naby ’n plaasheining opgetel en hy het aangeneem dat dié diamant van ’n hoër liggend plek moes afgespoel het. In sy soektog vind hy toe ’n nabygeleë koppie waardeur ’n blou diamantdraende pyp geloop het.


Die naam AC Erasmus is al wat op die graf staan

Gideon (29 Maart 1881 – 19 September 1950) en Hendrina Roux, gebore Knoetze (18 Oktober 1881 - 11 Augustus 1964)

Willem is in 1898 oorlede. Ná afloop van die Tweede Vryheidsoorlog het Willem se erfgenaam, Maria Elizabeth Prinsloo, en haar broers geld nodig gehad en het die plaas vir ’n som van £52,000 aan Thomas Cullinan verkoop.

Die myn is op 6 November 1902 as die Premier Sindikaat geregistreer, maar op 1 Desember geherregistreer as die Premier (Transvaal) Diamantmyn maatskappy. Later het Salmon Stephanus Maritz ook sy plaas, wat vroeër die Min \naar-plaas was, vir £20 000 aan die myn verkoop.


’n Skildery van Jacobus Jonker wat sy diamant verkoop
Foto: C L Doughty

Delwers
Die vraag hoekom delwers toegelaat is om so knap langs die diamantmyn te delf, se antwoord lê in die depressie-jare. Die myn het in 1932 gesluit en het besluit om grond af te staan waar delwers kleims kon kry.

Die diamante wat hulle gevind het, is elke Vrydag aan diamanthandelaars verkoop wat by die Indiër handelaar by Bynestpoort aangedoen het. Die grootste diamant wat by so ’n kleim gevind is, staan bekend as die Jonker-diamant wat in 1934 by Elandsfontein gevind is.

Jacobus Jonker het die diamant in 1936 vir R2,9 miljoen aan Harry Winston, ’n Amerikaanse juwelier, verkoop. Winston het die diamant in kleiner stene opgesny en Helene Beaumont, bekende operasangeres, het dit in 1946 by hom gekoop. Sy is in 1988 oorlede en haar diamant is in 1994 vir R6,7 miljoen aan ’n Europese versamelaar verkoop.


’n Onbekende graf met onleesbare grafsteen

Armoede
Die res van die delwers was nie so gelukkig nie en het klaarblyklik in groot armoede gewoon. Baie van hulle het waarskynlik in tydelike strukture gebly en sommiges kon in mynhuise in Holtzdorp of Halls dorp, suid-wes van die myn, gebly het. Dié dorp het langs die spruit afgeloop tot by Bynestpoort.

Volgens Martin Knoetze is dit insiggewend dat omtrent die helfte van die Bynestpoort delwersbegraafplasie uit kindergrafte bestaan. Hy sê dat dit nie bekend is of daar rekords is van wie in die ongemerkte grafte begrawe is nie. Die indruk wat hy gekry het is dat baie mense wat daar begrawe is se geliefdes nie geld gehad het om vir ’n grafsteen te betaal nie.

Die Bynestpoort delwersbegraafplasie word nie meer onderhou nie en die meeste grafte is toegegroei met lang gras, plante en bome. Sommige grafte het ineen begin stort en dit lyk of daar diere binne-in die grafte bly.

Dit is verrassend dat die meeste grafte nog grafstene het, alhoewel baie van hulle nie meer leesbaar is nie. Die grafstene van sement is onleesbaar, maar daar is ook ’n hele paar granietgrafstene wat aandui dat mense rondom die 1960’s steeds daar begrawe is.


Juwelier Harry Winston

Vanne
Vanne in dié delwersbegraafplasie sluit in: Bender, Bezuidenhout, Bornman, Brits, Britton, Broodryk, Brooks, Dasilva, Erasmus, Fritz, Grobler, Hartzenberg, Heyns, Jacobs, Jones, Knoetze, Kruger, Lamprecht, Redelinghuys, Robinson, Roux, Scholtz, Smith, Steyn, Steynvaard, Strydom, Van der Merwe, Van Deventer, Venter en Vuyk.

Die enigste graf waaroor ons ’n bietjie meer kon uitvind is dié van Gideon en Hendrina Roux. Gideon is op 29 Maart 1881 op Montagu gebore. Sy pa was Gideon Gerhardus Roux, gebore in 1842, en sy ma was Jacomina Elisabeth, ’n nooi Jordaan wat ook in 1842 gebore is.

Gideon is op 28 September 1908 in Pretoria met Hendrina Dorothea Knoetze, gebore 18 Oktober 1881, getroud. Hy is op 19 September 1950 in die Algemene Hospitaal, Pretoria oorlede en Hendrina eers bykans 14 jaar daarna op 11 Augustus 1964.


’n Blompot in die begraafplaas

 

© 2020 Die/The Bronberger