Kenners laat die aap uit die mou PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 19 May 2011 15:38
Untitled Document

Die Bronberg se blou-apies word elke nou en dan raakgery en was al verantwoordelik vir ’n paar motorongelukke in Zwavelpoort. Hulle word oor die algemeen as verpesting op die plotte gesien, waar hul intelligensie aangewend word om soveel vrugte as wat hulle kan, te gaps.

Die kenners sê deesdae dat dié diertjie se intelligensie nog altyd onderskat is. Studies is gedoen wat blou-ape se geluide in 19 verskillende kategorieë opdeel. En dan hang die geluid se interpretasie ook nog af of dit met ’n toe mond of met tande-wys gepaard gaan.

So het hulle drie verskillende waarskuwingsroepe vir landsroofdiere, slange en voëls. Die kenmerkende ’nkau’-roep van die volwasse mannetjie is die bron van die aap se Zoeloenaam.

Hulle het geluide wat beteken kom-ons-begin-nou-beweeg, ’n wye reeks aggressie geluide wat elk iets anders beteken en net so ’n wye reeks geluide wat ma en kleintjie vir mekaar maak. Kleintjies, van die os op die jas, kan soos ’n kat spin as hulle gelukkig is.


Zwavelpoortse blou-ape op ’n muur in Sainststraat
Foto: Die Bronberger, Julie 2009

Liggaamstaal
Die reeks geluide gaan gepaard, of nie, met liggaams- en gebaretaal waarvan die kenners al agt afdelings onderskei het. Een van dié is stertposisie.

Die posisie van die stert as ’n aap op al vier bene staan, wys hoeveel selfvertroue hy het. ’n Bang aap se stert loop parallel met die grond. Hoe hoër die stert op beweeg, hoe beter voel die outjie oor homself. Die wat werklik in hulle noppies met hulself is se sterte krul heeltemal om sodat dit parallel bo-oor die lyf staan.

Die gekompliseerde reeks kommunikasiemaniere het ontwikkel omdat die blou-aap in hegte sosiale groepe saamleef. Tropgrootte is 20 tot 30 lede en tropsamehang is rondom ’n dominante wyfie.Wyfies vorm ’n liniêre dominansie hierargie waar die dogters hulle rang van hulle moeders erf.

Mannetjies emigreer met die aanvang van puberteit. Hulle trek van trop tot trop, en spandeer omtrent drie jaar in ’n trop voordat hulle weer aanbeweeg.

Mannetjies en wyfies se hiërargië is verskillend; slegs die mannetjies van hoër rang het toegang tot bronstige wyfies.

Volwasse mannetjies toon geen belangstelling in kleintjies nie, maar jong mannetjies sorg dikwels vir kleintjies. ’n Ma sal toelaat dat ander wyfies haar kleintjie hanteer, maar dié in die laer rangorde kry nie maklik ’n kinderoppasser nie. Dit lyk asof ander wyfies veel eerder hoë-rangorde wyfies se kleintjies versorg.

Grense
Troppe het goed-gedefinieerde groepsgebiede met duidelike grense. Sosiale hegtheid gebeur deur onderlinge versorging van mekaar se pelse wat seker ook goed is vir die bloeddruk. Hoë bloeddruk kom blykbaar van nature onder ape voor.

Die blou-aap, Cercopithecus aethiops, is ’n primaat van gemiddelde grootte. Mannetjies word gemiddeld 115 cm lank en weeg 5,5 kg, waar wyfies slegs 105 cm lank word en gemiddeld 4,1 kg weeg.

Hulle pels is liggrys, maar die penspels en die binnekante van die ledemate is roomkleurig tot wit. Die gesiggie is swart, omkring met ’n wit band wat dwarsoor die voorkop strek en met die wange afloop. Dié aap kry sy naam van die volwasse mannetjies se skrotum wat helderblou is.

Slaap
Blou-ape is omnivore, en vreet vrugte en groente tot insekte, klein gewerwelde diere en voëleiers. Hulle is aktief in die dag en slaap snags in bome of op kranse. Hulle lewensverwagting kan tot 22 jaar wees.

 

© 2019 Die/The Bronberger