Woerts teen die wind
Die feit dat die hele klem van
die politieke veldtogte in die
aanloop na die munisipale
verkiesing in alle erns om kleinhuisies gewentel het, bevestig net my
jarelange vermoede dat politikusse
en hulle partye in geen omstandighede ernstig opgeneem behoort te
word nie.
As ’n ou plotperd met jare se ervaring van Kungwini, het ek gedink ek
het al alles moontlik en onmoontlik
uit die politieke front ervaar, maar
dié verkiesing se dinges-spul vat die
koek. Die miskoek.
Dis nogal moeilik om oor die hele
strooispul te praat sonder om daar
die wonderlike Afrikaanse Naboomspruitwoordjie te mag gebruik, maar
duidelik is die lot politiekagtiges in
ons land erg behep met dinges (vervang
dinges telkens met daai wonderlike
Naboomspruitwoordjie).
Nie net praat hulle dinges in twee
of meer tale vlot nie, hulle gryp dit
geesdriftig met albei arms aan om
gestalte aan die woord ‘smeerveldtog’
te gee. En om die spreekwoordelike modder met dinges te vervang
in ’n sieslike gooiwedstryd. Dis
Kootjie-Emmer-politiek soos selfs ou
Apie Brink dit nie sou kon uitdink
nie.
Nevermaaind dat miljoene mense
nie werk, huise (met of sonder
kleinhuisies), paaie, beskerming
teen misdadigers en metro-polisie,
skole, mediese sorg, water of kos
het nie – dis vere.
Dis ook vere dat miljoene mense
nie kleinhuisies het nie, of nooit
gehad het nie en in elk geval nie
sou weet wat om daarmee te doen,
sou dit voor hulle staangemaak
word nie. Want iewers innie Kaap in
het mense kleinhuisies sonder mure
en iewers in die Vrystaat ook. En dít
was nou die groot dinges in die
afwesige drinkwater. ’n Verskriklikheid waaruit ernstige politieke munt
voor die verkiesing geslaan kon
word.
Ter wille van die PK wil ek nie veel
dieper grawe in die dinges gewoontes, of dingesgewoontes van ons
land se verskillende kulturele groeperings nie. Ek gaan ook nie wonder
hoekom strukture om ’n bed en
konka-vuur binne japtrappe opgerig
kan word, maar nie om werkende
gemakhuisies nie. Ook nie hoekom
watertoevoer op een plek herlei
word van ’n kleinhuisie na ’n ‘carwash’
nie, of oor die meriete van ’n
kleinhuisbak wat aangewend word
as drinktrog vir die Krismisbok nie.
Natuurlik is dit belaglik om ’n
‘privaat’ in die eerste plek sonder
privaatheid te bou. Dit is nie my
doel om muurlose gemakhuisies
goed te praat nie. Ek is bloot net
gatvol vir die hengse ‘issue’ wat oor
strooi gemaak word in ’n patetiese
poging om ’n stem of twee te wen.
Maar ek weet ek woerts teen die
wind.
Dis net ’n genade dat die verskillende partye se paal-plakkate klaar gedruk was toe die hele storm in die
kleinhuisie losgebars het. Stel jou
voor: “Stem CNA en k... in gemak,”
of: “Die AD lewer k... diens aan
almal,” of dalk: “Stem vir Pope:
Dring aan op deursigtige ontlasting.”
Trone
En so van trone gepraat; met prins
Willempie se vreeslike trouery van
anderdag, sê Gert Mossie daar is
een ding waaroor hy jare lank al
wonder. Hy wonder, sê Gert Mossie,
wat kwien Liesbet nou eintlik doen.
Wat is haar day job, kan jy maar sê.
Hy verstaan, sê Gert, wat ons eie
kwien Modjadji van daar in die
Laeveld doen. Modjadji maak reën
en dis ’n baie belangrike jop. Maar
wat doen kwien Liesbet?
Hy weet darem nie hoe werk Gert
Mossie se kop nie, antwoord Allen
Prentjies. Allen Prentjies is half
Ingels, maar verder is hy nie te sleg
nie.
“Was jy al in Ingeland of het jy al
rakbie gekyk as hulle in Ingeland
speel, of Wimbledon?” wil Allen
vervaard by Gert weet.
“Wel, as jy het, sou jy weet dit reën
amper altyd in Ingeland. Die ou
kwien werk duidelik baie hard agter
die skerms.” |