Bapsfontein kry met moeite ?n muur Print E-mail
News - Rubrieke
Thursday, 19 May 2011 15:30
Untitled Document

Matilda Clifford

Somtyds lyk dit asof ’n ding net nie gaan kan gebeur nie. Dis asof alles haak en steek. So was dit met ons beplanning vir die inwyding van Bapsfontein se nuwe verwelkomingsmuur ook nie net ’n kwessie van nooi en partytjiegooi nie.

Daar was landswette om in ag te neem omdat ons, die Hattie Martins Vroue Landbou Unie (VLU) tak op Bapsfontein, dit opsluit by die muur op die groot kruising van die R25 en R50 wou doen. Dit word ’n openbare byeenkoms genoem en verg spesiale toestemming.


Beatrix Bunting by Bapsfontein se splinternuwe muur

Dié is verkry en die bystand van Metro Polisie en brandweer ook; die uitnodigings is uitgestuur en die wyn en kaas aangekoop. Alles in plek vir die groot makietie om 6 nm op 16 April 2011 by ons pragtige nuwe muur wat deel vorm van ons veldtog om Bapsfontein te verfraai.

Toe reën dit! Sonder ophou of genade sedert die vorige aand. Al wat ’n weerwebtuiste is word besoek en dit lyk mistroostig. Reën word voorspel tot laataand toe. Ons sit koppe by mekaar en ’n alternatiewe plek word voorberei waar ons teen 6 nm as gemeenskap bymekaar kon kom om die landmerk in ons omgewing amptelik in te wy en saam te kuier om ’n tafel tot boordens toe vol met eetgoed soos net die VLU dit kan doen.

Spesiale erkenning word gegee aan ons borge vir die projek, Wim en Pat Wethmar van Chalmar Beef, en Nicol en Lizette Muller van Country Mushrooms. Die Beckers van DB Skrynwerke het die bouwerk onderneem en die muur is ontwerp deur argitek Rupert Richter. Ekurhuleniraadslid, Joey Roos, wens ons geluk met die projek en belowe haar hulp waar verder nodig.


Die inwyding van Bapsfontein se muur

Maar die aand was nog lank nie verby nie - die hoogtepunt van die viering sou die opstuur van 100 warmluglanterns met groete-boodskappe in, wees - as dit net nie sou reën nie.

Teen 7.30 nm is die lug die ene sterre en ’n amper volmaan nooi ons na buite. Met die Metro Polisie en brandweer op hulle pos is ons op die ou einde in ’n lang stoet na die muur toe, en styg die lanterns skouspelagtig daar bo-oor op as ’n simbool van ons welwillendheid vir ons mooi omgewing en al sy mense. Die geleentheid draai oplaas pragtig uit.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger