Die hart om ?n doek te ruil Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 19 May 2011 15:15
Untitled Document

Volgens die Suid-Afrikaanse grondwet het elke mens in die land die reg om toegang tot skoon water.

Dit is baie onwaarskynlik dat die welmenende skrywers van die grondwet bedoel het dat dié skoon water net soms beskikbaar sal wees. Dit is ook onwaarskynlik dat hulle met die skrywe van die grondwet die patetiese onbevoegdheid van die grootste gros van die land se stadsrade en munisipaliteite sou kon voorspel.

In Zwavelpoort is die grondwetlike reg van ’n aantal mense om toegang tot skoon water te geniet, afgewater, kan jy maar sê, deur ’n beslissing van ’n regter wat dié toegang beperk tot sekere ure van die dag en van die nag. Dié beslissing spruit uit ’n egpaar, die Fouries van Olympus, se ‘reg’ op ’n onverstoorde nagrus en rustige naweekure sonder die steurende geraas van Kungwini se versterkingspomp neffens hulle huis. Sonder dié pomp se geraas sit die Zwavelpoorters sonder water. Met die pomp-rumoer sit die Fouries sonder slaap.

Ons twyfel of die reg om te rus sonder ’n munisipale pomp se geraas in jou ore, in die grondwet opgeneem is, maar dit is nie hier ter sprake nie. Wat ter sprake is, is nog ’n blaps van nog ’n onbekwame plaaslike owerheid en sy ewe patetiese amptenary.

Die verkeerde hofbevel is gesoek en verkry. Die bevel wat verkry moes geword het, is om Kungwini, of welke verantwoordelike owerheid ookal, te dwing om die versterkingspomp te verskuif of om dit klankdig te maak. Dit is immers wat die Fouries aanvanklik verlang het. Dit kan nie van die inwoners van Zwavelpoort verwag word om nou die tyd en geld op nog ’n hofsaak te mors om vir hulle basiese grondwetlike reg te baklei nie. Al sou só ’n saak in alle waarskynlikheid in hulle guns beslis word.

Die landelike gebied van die Bronberg suig nou al donkiejare lank aan die droë agterspeen van dienslewering. In die afwesigheid van ’n plaaslike owerheid wat net naastenby doeltreffend is, moes mense oor die jare heen leer om self na hulle behoeftes om te sien of om daarsonder klaar te kom. Mag ons dit waag om die hoop uit te spreek dat die belasting-gogga, waarmee Pretoria sy nuwe Bronberg-baba nou bangmaak, nie tot die aanval en byt sal oorgaan nie en dat Pretoria die vermoë en hart sal hê om darem soms bottel te gee en doek te ruil.

 

© 2020 Die/The Bronberger