Diamante vervleg in die lief en leed van Cullinan se Minnaars PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 21 April 2011 15:55
Untitled Document

Min het die Minnaars geweet dat hulle erfplaas, Elandsfontein, die wêreld se grootste diamant sou voortbring. Die agterkleinkind van Cornelis Minnaar, wat dié plaas in 1859 afgebaken het, gesels met ons oor die lief en leed van Cullinan se Minnaars.

Elsabé Maré

Die Minnaars se Cullinan saga begin wel in 1859, maar die verhaal strek terug na die Franse Hugenoot, Georges Mesnard, wat met die TS Chip China in 1688 van Amsterdam oorgekom na Suid- Afrika. Aanvanklik het die familie hulle in die Drakenstein en Stellenbosch- omgewing gevestig.

Dieselfde pioniersgees was in hul afstammeling, Cornelis Jacobus Minnaar, wat besluit het om aan te hou noord trek. Cornelis het sy plaas van ongeveer 3000 morg op 7 November 1859 geregistreer. Die plaas is Elandsfontein 85 genoem, distrik Pretoria, wyk Aaprivier en is geregistreer in Bronkhorstspruit.


Adriaan Jacobus (Arie) Minnaar, en sy vrou Cecilia Johanna (Pattie), ’n nooi Grobbelaar uit Ficksburg

Erfplaas
Volgens Cornelis se agterkleinkind, Adriaan Jacobus (Arie) Minnaar, het Cornelis se twee seuns, Roelof en Paul Minnaar, die erfplaas later verdeel. Paul het die deel gekry waarop die diamantmyn later ontwikkel het; die deel noord van Gevaardraai verby die Caltex garage op die westelike pad na Pretoria.

Op 7 Desember 1896 het Paul ’n deel van sy plaas aan Willem Prinsloo vir £570 verkoop. Willem het dit vir sy suster Miertjie, oujongnooi Maria Elizabeth Prinsloo, gekoop as oorstaanplaas wanneer die beeste in die herfs van die hoëveld na die bosveld trek.

Die ou Minnaar-opstal, gebou deur Arie se oupa Roelof, was tussen die koppie en Gevaardraai in ’n deel wat bekend gestaan het as Minnaarsvallei. Hier het die familie ook ’n dam gebou, watervore uitgelê, ’n skuur, kraal, ’n boord en landerye aangelê en uiteindelik ook ’n familiebegraafplaas gehad, wat vandag nog bestaan.


Die driemaster, TS Chip China, waarmee die Minnaars na Suid-Afrika gekom het

Oorlog
Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek, het die Minnaars gaan veg. Arie se oupa Roelof is voor die oorlog dood, van die familie is as krygsgevangenes na Bermuda gestuur en vrouens en jonger kinders is na die konsentrasiekamp in Irene gestuur. Na hulle tuiskoms in 1902, vind hulle dat die opstal afgebrand is. Arie se ouma trou later met stiefoupa Salmon Stephanus Maritz. In 1903 koop hy die suidelike gedeelte van Elandsfontein uit Arie se oupa Roelof se boedel.


Planne van Roelof Johannes Minnaar se opstal wat in die Anglo-Boereoorlog afgebrand is

Na die vrede was geld skaars en stiefoupa Maritz verkoop aan die Premier (Tvl) Diamond Mine Co. Ltd vir £20 000. Die koopkontrak het gestipuleer dat die familiebegraafplaas op die plaas uitgehou word as serwituut. Dit word vandag nog deur familielede versorg.

In die na-oorlogse tyd slaag Thomas Cullinan daarin om ook tant Miertjie Prinsloo se deel van Elandsfontein aan te koop. Willem Prinsloo (snr) wat Cullinan se aanbod teëgestaan het, is voor die oorlog oorlede en na die oorlog het Cullinan met tant Miertjie se twee broers onderhandel om die gedeelte vir £52 000 aan te koop.


Regoor die Caltex garage op die westelike pad uit Cullinan is die ronde klippe waarmee Arie se pa
Paul die pad gebou het, duidelik te sien

Trek
Stiefoupa Maritz het na die verkoop van Elandsfontein met die jonger Minnaar kinders, onder andere Arie se pa Paul, na die Jakkalsfonteindistrik by Bronkhorstspruit getrek. Hier ontmoet Arie se pa vir Martha, ’n nooi van die Middelburg omgewing. Hulle raak verlief en trou in 1910.

In 1921 was Arie se pa genoodsaak om by die Cullinanmyn te begin werk op dieselfde grond waar hy eens as seun vee opgepas het. Hulle het in ’n mynhuis in Holtzdorp of Hallsdorp, gebly. Dié dorp was suidwes van die myn en is vernoem na die diamantmyn se ingenieur, Holtz.

Dis hier waar Arie in 1924 gebore is met die hulp van die Cullinan se vroedvrou, ’nurse' Maritz, wie se huis oorkant die stasie was.


’n Berig oor oubaas Koos Jonker se diamant

Sluit
Dit het nie goed met die land se ekonomie gegaan nie en in 1932 sluit die myn weens die depressie. Pa Paul was gelukkig om werk by die myn te kry om die pad by die westelike uitgang van die dorp te bou. Hy het drie sjielings en ’n sikspens per dag verdien, wat genoeg geld was om vir sy familie te sorg.

Pa Paul se oudste broer Roelf het hom gehelp om met ’n muil en skotskar ronde klippe vir die padbouery aan te ry.

Die myn het probeer om die nood te verlig deur grond af te staan waar daar vir kleims gehardloop is. Die mededingers het in ry gestaan en as die skoot klap het hulle in ’n afgebakende laan gehardloop. Die wat nie kon hardloop nie het die jongmense betaal om dit vir hulle te doen.


Kaart van die destydse plaasuitleg. Die blou lyn wys die watervoor van die Minnaarsdam. Die huidige
pad loop suid van die begraafplaas. Noord van Paul se landerye is die diamantmyn op die draai van die
twee kraglyne

So het Arie vir ’n tiekie gehardloop. "Al een wat suksesvol was," vertel Arie, "was oubaas Koos Jonker. Ek het self die Jonker diamant gesien." Hallsdorp het so oor die spruit afgekronkel en daarmee saamgeloop tot by Bynespoort waar die Indiërhandelaar was. Elke Vrydag het diamanthandelaars hier kom diamante koop. Wanneer die delwers die grys diamantdraende grond gekry het, het hulle dit ’n 'strike' genoem en snags daarby geslaap om dit op te pas.

Belangrike gebeure in ons land se geskiedenis en prominente figure in die Cullinan omgewing het ’n groot rol in die omstandighede van die Minnaar familie gespeel. Vandag bly Arie en sy vrou Pattie in die ooste van Pretoria en sy enigste ander oorlewende broer, Gert Petrus Minnaar, bly in Johannesburg.


Arie se ouers, Paul en Martha Minnaar, in Silverton waar hulle vanaf 1934 gebly het

 

© 2019 Die/The Bronberger