PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 21 April 2011 17:53
Untitled Document

Europese swaels is een van daardie rare verskynsels in die diereryk - hulle vorm ’n lewenslange verbintenis met een maat, maar is voortdurend losbandig. Swael se kind kies ’n maat saam met wie hy nesmaak en broei, maar moenie dink dat hy getrou aan die maat is nie.

Dié voëltjies word as sosiaal monogaam beskou, maar die waarheid is dat hulle geneties veelwywig is en ’n mannetjie nooit seker is of dit sy eie kuikens is wat in sy nes uitbroei nie. Hulle sê dat dit die rede is vir dié mannetjies se buitengewone gebiedsagressie.

Die Europese swael mannetjie het ook ander plannetjies beraam om sy wyfie van ander mannetjies weg te hou. Die bekendste daarvan is die noodroep wat hy gee as hy sien dat lewensmaatjie in ’n ander ou belangstel. Beide wyfie en potensiële minnaar laat spaander dan dadelik om skuiling te soek teen die kamstige roofdier waarteen hulle gewaarsku word.


Europese swael
Foto: Wikepedia

Besoeker
In die somer is Europese swaels, Hirundo rustica, van die algemeenste swaels in die Bronberg-wêreld, en in vlug meng hulle vryelik met ander swaels en windswaels oor feitlik alle habitatte. Die Europese swael is ’n somerbesoeker wat in suidelike lande oorwinter, maar slegs in noordelike lande broei.

Individue oorwinter elke jaar op dieselfde plek en as hulle begin aankom, vergader hulle in reuse swerms. Die grootste swerm wat in Afrika getel is, het uit 1,5 miljoen voëltjies bestaan. Die Europese swael kom gewoonlik vanaf September by ons aan en bly hier tot Maart, wanneer hulle weer in groot swerms op telefoondrade begin versamel vir hulle vlug noordwaarts.

Daar is ses subspesies van dié swael wat in Europa, Asië en so ver noord as die arktiese sirkel broei. Hulle somer- en wintergebiede dek 51,7 miljoen vierkante kilometers met ’n populasie van 190 miljoen individue.

Die Europese swaels wat in Suid-Afrika oorwinter kom van dwarsoor Eurasië tot ten minste 91°E en hulle vlieg tot 11 660 km met hul jaarlikse migrasie. Migrerende swaels kan tot 300 km ’n dag vlieg en vat omtrent vyf weke om terug te vlieg na Suid-Afrika.

Die meeste trekvoëls vlieg in die nag omdat daar dan minder onstuimigheid is, dit koeler is en omdat daar minder roofvoëls is. Swaels vlieg egter in die dag. Hulle vlieg ook baie laer as ander trekvoëls omdat hulle vreet en drink terwyl hulle vlieg.


Ouer kuikens in ’n nessie
Foto: Wikepedia

Swerf
Die migrasie van Europese swaels tussen Brittanje en Suid-Afrika is vir die eerste keer op 23 Desember 1912 geboekstaaf toe ’n voëltjie wat deur James Masefield in ’n nessie in Staffordshire gering is, in Natal gevind is.

Tog weet die mensdom eeue reeds dat swaels die wêreld vol swerf. Die uitdrukking "een swaeltjie maak nie ’n somer nie" verwys na die feit dat swaeltjies so stuk-stuk aankom in die lente. Dié uitdrukking is die eerste keer neergeskryf deur Aristoteles in 'Nicomachean Ethics' in die Goue Griekse tydperk.

Op familiewapens is die Europese swael as 'Martlet', 'Merlette', of 'Merlot' aangedui om jonger seuns wat geen grond geërf het nie, voor te stel.

’n Tatoeëermerk van ’n swaeltjie was baie populêr onder matrose en is gesien as ’n simbool van veilige tuiskoms. ’n Matroos kon eers ná hy 5 000 seemyle (ongeveer 9 260 km) afgelê het sy eerste tatoeëermerk kry. ’n Tweede tatoeëermerk kon bygevoeg word na 10 000 seemyle.


Europese swael in vlug
Foto: Wikepedia

Legendes
Reeds in 29 VC het Virgil in sy 'Georgics' verwys na swaels wat nesmaak in mensgemaakte strukture. In Europa word die swael juis om dié rede 'barn swallow' genoem. By ons maak hulle nie nessies nie en oornag meestal in rietplate.

Dit is juis in Europa wat die legende begin het dat erge dinge met jou sal gebeur as jy ’n swaeltjie se nessie vernietig. Die legendes lui dat jou koeie bloederige melk sal hê of dat hulle melk heeltemal sal opdroog, en dat jou henne sal ophou eiers lê as jy ’n nessie beskadig. Blykbaar is die stories begin omdat mense wou hê dat swaeltjies in hul skure en huise moes nesmaak om lastige insekte op te vreet.

Vlieë maak omtrent 70% van ’n Europese swael se dieet uit. Hulle vreet terwyl hulle so sewe tot agt meter bo die grond vlieg en drink selfs in vlug wanneer hulle afswiep om mondjies vol water uit damme en riviere te neem. Dit is waar die bygeloof vandaan gekom het dat swaels nie voete het nie.


Swaelnessie met kuikens en eiers, uitgevoer met vere en perdehare
Foto: Wikepedia

Nes
Die kenners sê dat ’n Europese swaelnessie gewoonlik tien tot 15 jaar lank bestaan, maar dat die oudste nes wat gevind is vir 48 jaar gebruik is. Die koppievormige nes word deur beide mannetjie en wyfie met modderkorreltjies gebou en word met gras, vere en ander sagte materiaal, soos selfs perdehare, uitgevoer.

Europese swaels sal in ’n kolonie nesmaak as daar genoeg strukture beskikbaar is. Die mannetjie beskerm ’n sekere gebied rondom die nes; vir die Europese subspesie is dié gebied vier tot agt vierkante meter groot.

So ’n kolonie sal teen indringers, soos katte wat te naby aan die nessies kom, saamstaan met ’n groot lawaai en swiepende vliegbewegings. Die nes word gewoonlik twee keer ’n seisoen gebruik om te broei.

Ongeveer 90% van die eiers broei uit en 70% tot 90% van die kuikens oorleef. Tog gaan 70% tot 80% van dié kuikens in hul eerste jaar dood en 40% tot 70% van volwassenes. Swaeltjies kan meer as 11 jaar oud word, maar die meeste oorleef minder as vier jaar.


Europese swaels versamel op telefoondrade voor hulle vertrek
Foto: Anush Shetty

Wimpel
Die kenners sê dat ’n Europese swael mannetjie se broeisukses te doen het met die lengte van sy stertwimpels. Hoe langer die wimpels, hoe meer aantreklik is hy vir wyfies. Blykbaar lewe mannetjies met langer stertvere langer en is hulle meer bestand teen siektes.

Interessant genoeg wys navorsing dat Europese swael mannetjies wat in noordelike Europa broei, langer sterte het as dié wat verder suid broei. In Spanje is die mannetjie se stert slegs 5% langer as die wyfie s’n, maar in Finland is die verskil 20%.

Dié swael is 17 tot 20 cm lank en het glans blou-swart boonste vlerke en witterige onderste dele. Hy het ’n gevurkte stert met ’n streep wit kolle aan die buitekant van die boonste stertvere.

Dié swael word aan sy rooibruin voorkop, ken en keel uitgeken met ’n duidelik swart kraag wat die keel van die bors skei. By voëls wat verveer, van November tot Januarie, ontbreek die roesrooi ken en lang stertwimpels dikwels. Die snawel, bene en voete is swart.

Die wyfie lyk soos die mannetjie maar haar blou vere is minder glansig en die onderste dele dowwer. Kleintjies is bruiner en het ’n bleker rooibruin gesig en witter onderste dele. Hulle het nog nie lang stertwimpels nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger