Hy was ou Pretoria se beste ruiter PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 21 April 2011 15:51
Untitled Document

’n Jong Pretorianer se liefde vir sy perd, Sailor, is deur ’n bekende skilder verewig in ’n skildery wat ou Pretoria uitbeeld. Dié was nie sommer enige jong man nie; hy is op die ouderdom van 13 jaar gekies om sy pa op ’n amptelike missie Swaziland toe vergesel; het saam met sy ooms die eerste klont goud aan die Witwatersrand fyngemaal en was jare later die eerste bevelvoerder van die Transvaalse Berede Artillerie.

Die jong man was Godfray Lys, enigste seun van John Robert Lys oor wie ons in Die Bronberger se Februarie-uitgawe geskryf het. Ons het vertel dat John se goudbelaaide poedingklip jare lank as deel van sy klipversameling in sy studeerkamer neffens Kerkplein gesit het voor sy swaers, Fred en Harry Struben, begin het om die ryk Witwatersrandse goudaar te ontgin.

Die skildery waarop Godfray en sy perd Sailor pryk is deur Thomas Baines in opdrag van Godfray se pa, John, geskilder. Thomas Baines het Pretoria in Januarie 1872 besoek en het drie skilderye gemaak wat verkoop is aan Albert Brodrick, Herman Jeppe en John Lys.

John se skildery beeld Pretoria vanaf Meintjeskop uit. Onder in die middel van die skildery is Godfrey en sy wit perd Sailor. Baines, die skilder, sit regs van die perd en werk. Die skildery kan vandag in die Africana Museum in Johannesburg besigtig word.


Godfray as ’n jong man

Seun
In Februarie het ons vertel dat John, Volksraadlid van die Zuid-Afrikaansche Republiek, na Swaziland gestuur is toe Amaswazi, die hoofman, dood is om te help om die grense tussen die republiek en Swaziland af te baken en om die nuwe hoofman te help kies. Wat ons nie vertel het nie is dat sy 13- jarige seun, Godfray, saam is. Hy is as deel van die Pretoria Kommando gekies omdat hy as kind reeds een van die beste ruiters in die dorp was.

Robert Oliver Godfray Lys is op 22 Junie 1860 in 'The Eyrie', die Lyswoning neffens Kerkplein, gebore. Hy het geskryf dat een van sy heel eerste herinnerings met perde te doen het. Hy onthou dat hy as kleuter voor op sy pa se saal op ’n perd se rug gesit het. Toe hy groot genoeg geword het om sy bene aan weerskante vas te knyp, het hy langs sy pa op ’n donkie gery.

Donkies was egter die heel skaarste diere om in ou Pretoria aan te koop. Godfray se ma, Olivia Selina Lys, wou verskriklik graag vir haar kinders ’n donkie kry om te ry, maar sy het geskryf dat dit makliker sou wees om geld uit die republiek se reserwebank te kry as om ’n donkie te bekom.

Die manier waarop sy aan die donkie wat die kinders later gery het, gekom het, het op die ou einde toe niks met geld te doene gehad nie. Die Lys-gesin was bekend vir hul netjiese voorkoms. Twee keer ’n jaar het hulle klere van Durban of oorsee laat kom en John het ’n baie deftige jas gehad wat ’n sekere donkie-eienaar, wie se naam nie genoem word nie, begeer het.

Olivia het die ruil-transaksie voorgestel en beide jas- en donkieeienaars het vir jare vas geglo dat hulle die beste uit dié ruilhandel gedoen het.


Die eerste stampmeul waarmee Godfray vir sy ooms, Fred en Harry Struben, goud fyngemaal het

Strydros
Godfray se volgende 'strydros', soos hy aangedring het om hom te noem, was ’n muil wat hom afgegooi het wanneer hy ookal moeg geword het vir iemand op sy rug. Dié keer was dit ’n bietjie moeiliker vir die bekommerde Olivia om ’n geskikte perd vir die klein Godfray te kry. Olivia se drome oor ponies het waar geword toe vier Basoetoeponies van Basoetoland in Pretoria aangekom het en sy pa gesê het dat een van hulle vir Godfray bestem was.

Dit was eers toe Olivia se stiefsusters uit Engeland in Pretoria aankom, dat Godfray ’n regte groot perd gekry het. Dié susters is later getroud met bekende Pretorianers soos Albert Brodrick, ’n toekase winkelier bekend as Albertus Broodryk, James Rous, uitgewer van De Volksstem, en Harry Struben. Godfray se stieftantes het sy Basoetoeponie oorgeneem en Godfray het gevra vir ’n jong hingsie.

Blykbaar was daar juis toe ’n besending perde vanaf Heidelberg op pad na Pretoria. Toe Godfray die spierwit hingsie sien, het hy hom dadelik Sailor gedoop. En toe, vertel Godfray, is dit dat sy ernstige rondryery en ontdekkingstogte begin het.


Thomas Baines se skildery van Godfray en sy wit perd Sailor
Foto: Rosa Swanepoel se versameling

Togte
Blykbaar het die jonge Godfray gereeld uit Pretoria uitgery om by vriende op plase te gaan kuier en het hy soms alleen vir die naweek oorgebly.

"Dit alles net om weg te kom van my leermeester wat nie kon perdry nie," skryf Godfray later.

In sy memoirs, wat deur sy kleinkind, Angela P Makin, in haar boek 'The Story of the Golden Vlei' opgeneem is, skryf Godfray dat hy saam met perde grootgeword het en dat hulle altyd sy beste vriende was. Hy het darem nie altyd alleen gery nie en vertel van die dag wat hy en Allen Broderick, Frank Austen en John Fisher ’n strooptog beplan het op ’n nabygeleë boer se vrugteboorde.

Blykbaar wou dié boer nie sy vrugte aan die kinders verkoop of persent gee nie, en hulle kon hul lus nie hou nie. Hulle het onderdeur die heining gegrou en met hul spierwit matroospakkies, waarin seuntjies daardie dae aangetrek is, deur die grond gekruip. Blykbaar kon dié pakkies ook ’n verstommende hoeveelheid vrugte verdoesel. Die probleem is net dat hulle nie besef het dat die volgestopte matroospakkies sou maak dat hulle nie weer in hul tonnel kon pas nie.

Toe die boer hul begin jaag, is al die vrugte papgedruk in hul poging om hulself deur die tonnel te dwing. Die druiwe het blykbaar veroorsaak dat almal se wit pakkies pers geword het - so ook Godfray se spierwit perd. Godfray was die enigste een wat nie ’n pakslae hieroor gekry het nie.

Toe die Anglo-Zoeloe-oorlog in 1879 uitbreek, het Godfray by die vlieënde kolonne, bestaande uit vlootkadette en verskeie berede afdelings, aangesluit. Hy was later die eerste bevelvoerder van die Lys Vrywilligerskorps, wat op 17 Maart 1904 tot stand gekom het. Die korps is herdoop na die Transvaalse Berede Artillerie.


’n Ouer Godfray

Goud
Deur die jare het Godfray nooit van sy pa se onwrikbare geloof aan ’n ryk goudaar in die Witwatersrand-omgewing vergeet nie. Sy pa is in 1880 oorlede en in 1884 het Godfray saam met sy ooms, Harry en Fred Struben, die 'Confidence Reef' myn op die plaas Wilgespruit begin. Dié rif is op ’n koppie in die middel van dit wat vandag die dorp Roodepoort is.

Harry Struben het die ontdekking van die goud op 5 Junie 1885 in Pretoria aangekondig en ’n stampmeul van Engeland bestel wat hulle in Desember 1885 by Wilgespruit geïnstalleer het. Met Godfray se hulp kon hulle knap daarna dwarsdeur die nag goudklonte fynmaal.

Dit moes in dié tyd gewees het dat Godfray een van Johannesburg se bekende sosiale vlinders, Phyllis Bruce Taylor, ontmoet het en met haar getroud is.

Die goud is egter ’n jaar later alles uitgemyn, omtrent teen dieselfde tyd wat die hoof goudaar, 'Main Reef', deur George Harrison ontdek is. Die Strubens se ontdekking van goud het duisende mense na die Witwatersrand gelok.


Die wapen van die Lys Vrywilligerskorps wat later as die Tranvaalse Berede Artillerie bekend gestaan het

 

© 2019 Die/The Bronberger