Whispering Oaks ?n egte Cullinan diamant PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 21 April 2011 17:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel val ongenooid in by kuierplekke in die Bronberg-gebied en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

As jy in Cullinan se laer Oaklaan afstap en jy word honger of dors, of dalk altwee, kan jy kies uit ’n hele rits kuierplekke om na die innerlike om te sien.

Hulle sit ingeryg in Oaklaan se geskiedkundige ou sandsteenhuisies - restaurante van uiteenlopende aard en omvang. Op dié betrokke mooi, sonnige Sondag swenk ons in by die Whispering Oaks Garden Café, want ons het honger en ons het dors.

Jy sit onder ’n sambreel by ’n ronde betontafel tussen die roosbosse in Whispering Oaks se mooi tuinkafee.

Terwyl jy vir jou drankie wag (hulle bedien al die soorte) staar jy na die toeriste wat heen-en-weer voor jou in die pad verbydrentel. Toeriste in hulle kortbroeke met sokkies en sandale; toeriste met bleek wit bene, rooi gesigte en vreemde Ingelse aksente; toeriste met skrefies oë en geblomde hempies wat swaar aan Oosterse kameras dra en toeriste wat ondanks alles breëbors in hulle bloubulhempies verbyloop.

Die atmosfeer in die tuin is ontspanne en gemoedelik, deels te danke aan die ontspanne en gemoedelike eienaars, Keron en Senette Phitides.

Die disse op die spyskaart is wyd uiteenlopend en oorspronklik. Dit is die soort eetgoed wat heel gepas vir ’n tuinkafee is. Jy kan byvoorbeeld vir ontbyt ’n pannekoek gevul met kaas, spek en gebakte piesang en bedruip met 'maple' stroop bestel. Dit sal jou R48 kos.


’n Gemoedelike kuiertjie in Whispering Oaks se roostuin

Die plek se 'gesondheidsbroodjies' is vernoem na beroemde diamante wat uit Cullinan se grond gegrou is en is ruim van omvang. Die 'Great Star of Afrika' is gelaai met gerookte salm, maaskaas, grasuie, kappertjiesaad en peppadew. Die 'Premier Rose' dra ham, mozzarella kaas, tamatie, komkommer, appel en ’n ligte mosterdsous.

Die 'Jonker' het aspersies, eier, feta kaas en mayonnaise op en die Taylor-Burton kombineer bees pastrami, heelgraan mosterd, songedroogde tamaties, mozzarella kaas en ’n mosterdsous. Al sewe die diamantbroodgeregte is verfrissend oorspronklik en baie substansieel. Almal kos iewers in die R50.

Jy kan ook 'meal sized' gevulde pannekoeke, 'meal sized' slaaie, geroosterde toebroodjies of oop broodjies en ’n keuse van sewe soorte burgers bestel. Die burgers is net minder of net meer as R40. En vir nagereg kan jy ’n wye keuse en (weer) oorspronklike soet pannekoeke of wafels geniet.

Ek het die gevulde pannekoek met gerookte salm, maaskaas en 'spring onion' gekies en ek kan dit sonder skroom aanbeveel. Die gedoente was beslis 'meal size', trouens, die slaai wat daarmee saamgekom het was 'meal size' op sy eie. Al wat ek kan sê oor die voorkoms van die gereg, is dat die kok ’n kunstenaar is.

Amper te mooi om met ’n mes en vurk te wil toetakel, maar aan die ander kant heeltemal te smaaklik om te wil los. Dit kos R56. Metgesel het die geroosterde hoender mayonnaise toebroodjie met skyfies en slaai geniet. Dit kos R39.

As jy jouself ’n guns wil doen deur ’n draai by Whispering Oaks te maak, kan jy gerus by hulle tuisprodukte winkeltjie, 'Temptations' inval vir heerlike gebottelde produkte en veral vir die Hollandse kase en plaasbotter.

 

© 2019 Die/The Bronberger