Kuur uit Romeinse Ryk groei geil as heining PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 21 April 2011 17:45
Untitled Document

Iets wat ons as ’n doodgewone heiningstruik ken, het ’n hele paar uiteenlopende funksies wat reeds in die Romeinse Ryk besing is. Ons praat van ’n plant wat as braakmiddel of bloedstelpmiddel gebruik kan word, wat boonop tradisioneel gebruik is vir tatoeëermerke en as kleurmiddel.

Daar is wêreldwyd 25 spesies in die Plumbaginaceae familie waarvan 10 in tropiese Afrika voorkom en vyf daarvan in Suid-Afrika. Die een wat ons as heiningplant ken is Plumbago auriculata, met die minder bekende Afrikaanse naam van blousyselbos.

Sy Engelse naam - 'Cape Leadwort' - is afgelei vir die Latynse woorde 'plumbum' wat lood beteken en 'agere' wat as 'lyk soos' vertaal kan word. Dié naam is die eerste keer deur die kommandeur van die Romeinse Ryk se weermag en vloot, Gaius Plinius Secundus, gebruik.

Hy is meer algemeen bekend as die ouer Pliny om hom van sy neef, die jonger Pliny, te onderskei. Pliny, wat van 23 NC tot 79 NC geleef het, was ook ’n Romeinse outeur, filosoof en natuurkundige. Hy het geglo dat plumbago ’n kuur vir loodvergiftiging is. Pliny is dood met die uitbarsting van die vulkaan Vesuvius.


Plumbago se blomme
Foto: Wikimedia

Eeue
In Indië word ’n plumbago spesie, Plumbago zeylanica, reeds honderde jare lank gebruik in die maak van tradisionele medisyne, genaamd ayurveda. Die Indiërs het geglo dat dié plant se wortelbas en blare antimikrobies is en ’n anti-oksidant.

Hulle het aftreksels gebruik om ongesteldhede, vanaf inflammasie tot kanker, te behandel. In Europa is plumbago konkoksies gebruik as vel saamtrekmiddel om vergrote porieë te verfyn en olierige vel te behandel, en is ook as wondermiddel vir tandpyn beskou. Dit het blykbaar so goed vir tandpyn gewerk dat die Franse dié plant 'dentelaire' begin noem het.

Toe die Hollanders in 1652 in Suid- Afrika aankom, het hulle plumbagobosse hier ontdek en dit dadelik met die ander kolonies gedeel. Die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie het dié plant na die Oos-Indiese eilande geneem waar dit in 1786 deur ’n Franse botanikus, Jean- Baptiste Lamarck, ontdek is. Hy het dié plant Plumbago auriculata gedoop, waarskynlik in verwysing na die oor-vormige blaarbasis.

Plumbago auriculata was egter ook bekend as P. capensis, wat die naam is wat botanikus, Thunberg, in 1794 in Suid-Afrika daarvoor gegee het. Hy het egter nie geweet dat Lamarck dieselfde plant in 1786 reeds in die Oos-Indies gedoop het nie.


Die Romein Pliny het geglo dat plumbago’n kuur vir loodvergiftiging is

Jean-Baptiste Lamarck wat Plumbago auriculata so gedoop het

Afrika
In Oos-Afrika word plumbago se blomme en blare gebruik as kleurmiddel vir materiaal, wat ook insekwerende eienskappe het. Dit het ’n geel pigment, wat in ’n kleurlose vorm in die plant voorkom, maar na vore gebring word deur suurbehandeling. Die wortelsap is egter ’n blou-grys kleur en word in tatoeëermerke gebruik.

In suidelike Afrika is die geloof rondom dié plant se beskermingsmeganismes so groot dat ’n takkie daarvan in grasdakke van hutte geplaas is om die inwoners teen donderweer te beskerm. ’n Plumbago- takkie langs die slaapplek beskerm die slaper blykbaar ook teen slegte drome.

’n Aftreksel van die lugwortels word gebruik om swartwaterkoors te behandel en ’n aftreksel van die wortels word toegedien as ’n braakmiddel en bloedstolmiddel in kliertuberkulose.

Verpoeierde wortels word op vratjies gesit om hulle te laat verdwyn en word as snuif gebruik om hoofpyne te verlig.

Verpoeierde en geroosterde wortel word oor wonde en beenbreuke gevryf om genesing te bevorder en word in die lyf gesmeer om ’n steek in die sy te behandel. Kruiedokters waarsku egter dat dié behandelings gevaarlik kan wees as die poeier oor groot gedeeltes van die vel ingevryf word. Blykbaar is dit omdat alle dele van plumbago auriculate ’n middel genaamd noaphtoquinone plumbagin bevat, wat blase op die vel kan veroorsaak.

Tog erken hedendaagse navorsers dat plumbagin ’n verskeidenheid farmakologiese funksies, soos antimikrobies en anti-kanker, kan hê as dit reg voorberei word.


Plumbago-heining met blou en wit blomme
Foto: Forest & Kim Starr

Natuur
In die natuur kom ons plaaslike plumbago as ’n kruipende struik van ongeveer drie by drie meter voor. Hy groei wild in die veld vanaf die suidelike en oostelike Kaap tot in KwaZulu-Natal, Gauteng, noordelike dele van die Vrystaat en in die Noord-Wes provinsie met ’n paar voorbeelde in Mpumalanga.

Plumbago is ’n sterk staatmaker in die tuin wat amper enige iets kan oorleef. Hy groei vinnig, is droogtebestand en sal in bykans enige soort grond groei. Dié struik is egter ’n bietjie sensitief vir ryp, maar sal gou weer uitloop as hy beskadig is. Hy groei ook beter in landsdele waar daar ’n droogteseisoen is.

Nuwe groei is ’n helder groen wat donkerder word soos die tak ouer word. Die struik kan dwarsdeur die jaar blom, maar sy grootste blomtyd is tussen November en Mei.

'Royal Cape' is ’n donkerder blou vorm van die plant wat in kwekerye beskikbaar is. Daar is ook ’n wit variasie wat nie so ’n sterk plant soos die bloue is nie, maar wat meer blomme dra. Dit lyk asof dié wit blomme in die skemer gloei en is ’n gunsteling onder tuiniers wat eers teen skemer tuis kom.

Plumbago se blomme het klewerige haartjies wat aan diere vasklou en sodoende help om die saad te versprei. Die struik vorm ondergrondse suierlote wat ’n hele paar meter van die struik af kan opkom.

Dit is maklik om dié struik te kweek. Jou beste resultate is om dié suierwortels van die moederplant as stiggies te gebruik, maar jy kan ook stiggies van die takkies maak of sy saad saai. Saai in die lente in goed gedreineerde saailingbakke en bedek die saad net effens. Moenie dat die grond uitdroog nie.


Die Plumbago maak ’n digte heining

 

© 2019 Die/The Bronberger