Pretoria, die bullebak Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 21 April 2011 17:31
Untitled Document

Wat kan erger wees as ’n plaaslike regering wat maand na maand belasting op jou grond hef, maar absoluut niks in ruil daarvoor, in die vorm van dienste en infrastruktuur, gee nie? Wel, ’n plaaslike regering wat tot vier keer meer geld vir die absoluut niks vra, is erger. Vier keer erger.

En dit is presies wat met die Bronberg-gebied se mense gaan gebeur as die munisipaliteite van Kungwini en Nokeng Tsa Taemane ná die verkiesing op 18 Mei by Pretoria ingelyf word. Hoewebewoners sal dan met ’n 400% verhoging sit en dorpsbewoners sal tot 83% meer moet opdok. En Pretoria het dit duidelik gemaak dat geen duit van die ekstra miljoene wat maandeliks in sy koffers gestort gaan word, gebruik sal word om die lewe van dié wat beroof word, te vergemaklik nie. Dit is soos die Engelse sê: "Money for nothing."

Die allemintige verhoging vir hoewegrond kan slegs vrygespring word as jy kan bewys jou plot word vir landboudoeleindes aangewend. Dit beteken nie dat jy kan wegkom as jy ’n mofkoei en ’n paar werfhoenders aanhou nie. Nee, jy moet ’n 'bona fide boer' wees en by die belastingman geregistreer wees as een. Dalk sou dit tog die moeite werd wees om dié moontlikheid te ondersoek. Deur die jare het baie Bronbergers al gewoond geraak daaraan om gebuk te gaan onder die korrupte en onbekwame plaaslike regerings van Kungwini en Nokeng. Dit was nie altyd maklik en geensins aangenaam nie, maar mense het dit oorleef.

Die nare werklikheid van die nuwe bedeling is dat baie mense dit eenvoudig nie sal kan bekostig nie. Om eensklaps tot 400% meer te moet betaal vir enigiets is ongehoord in enige 'beskaafde' demokrasie. Om dit vir niks te moet betaal, soos wat die groot bullebak Pretoria nou vereis, is só verregaande dat dit aan die belaglike grens.

Iets waarmee Pretoria waarskynlik nie rekening gehou het nie, is die durf en samehorigheid van die Bronberg-gemeenskap. Ons voorspel dat die bullebak hom maar kan regmaak vir ’n terugbaklei soos waaraan hy tot nou toe glad nie gewoond was nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger