Sy verkies ?n wakker veelwywer Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 21 March 2011 19:27
Untitled Document

’n Rooivink wyfie sal haar kroos se veiligheid in gevaar stel solank sy oortuig is daarvan dat die mannetjie wat sy gekies het, goeie gene aan haar afstammelinge, of dié van hulle wat oorleef, sal oordra.

Navorsingstudies oor rooivink wyfies het gewys dat hulle eerder in ’n groot rooivink-harem sal bly, wat meer roofdiere lok, as om ’n mannetjie te kies wat net een of twee nessies vir wyfies bou waar hulle betreklik veilig sal wees.

Die studies het tot die gevolgtrekking gekom dat wyfies ’n mannetjie wat baie nessies bou sien as een met die beste gene. En dat hulle glad nie omgee om ander wyfies in dié harem te verwelkom nie.


Die rooivink sonder sy broeikleed
Foto: Trevor Hardaker

Die rooivink mannetjie is veelwywig en hy help nie met die uitbroei van eiers of die voer van kuikens nie. In daardie opsig kompeteer die wyfies dus nie vir sy aandag nie en die kenners sê dis hoekom hulle nie ander wyfies wegjaag nie. Die mannetjie is egter baie territoriaal en spandeer ’n groot deel van sy dag daaraan om sy gebied teen ander mannetjies te beskerm.

Die rooivink mannetjie kan drie tot tien wyfies per broeiseisoen hê. Hy bou drie tot 13 nessies, waar dit een tot drie dae neem om ’n enkele nessie te bou. Die nessie is ’n kompakte ovaalvormige struktuur met ’n kant-ingang wat deur ’n klein afdakkie beskerm word. Dit word uit riete en gras aan biesies, rietstande en palmiete vasgeweef, en soms ook in oeslande.

Rooivinke kan dwarsdeur die jaar broei, maar hul broeitydperk piek tussen November en Februarie. Die wyfie lê een tot vyf eiers wat sy binne 12 tot 13 dae uitbroei. Die kuikens word deur die wyfie gevoer en verlaat die nessie na ongeveer 11 tot 15 dae.


Die rooivink in sy broeikleed
Foto: Wikipedia

Dié groeplewende voëltjies bly gewoonlik naby water in grasveld en savanne. Hulle voer in swerms en vreet hoofsaaklik sade en plantmateriaal en nou en dan ’n insek.

Die rooivink, Euplectes orix, is ongeveer 14 cm lank. Die broeiende mannetjie lyk baie soos die vuurkopvink, maar het ’n swart voorkop en kroon en bruin primêre vere waar die vuurkopvink se broeiverekleed ’n donkerder mantel het, swart primêre vere en ’n rooi, nie swart nie, voorkop en kroon.

Die wyfie, nie-broeiende rooivink en onvolwassenes is moeilik onderskeibaar van soortgelyke verekleedstadiums van die goudgeelvink. Die rooivink het egter swaarder gestreepte en donkerder onderste dele.

Hul normale vliegroep is ’n ‘tjeettjeet’, maar die mannetjie sing ’n zoemende, tjirpende sang wanneer hy vertoon.

 

© 2020 Die/The Bronberger