Bronbergse Percheron is perd van die jaar PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 21 March 2011 17:10
Untitled Document

Die vier jaar oue Percheron hings, Sympa de Bellevue het met die louere weggestap by die onlangse Perd van die Jaar Skou. Hy is aangewys as die opperste groot kampioenteelperd en is die eerste Percheron wat die titel kon verower.

Sympa het deelgeneem teen 17 raskampioene waar die hingste en merries teen mekaar meegeding het en bewys dat die Percheron terug is in die skouring as ’n gedugte teenstander waarmee rekening gehou moet word.


Van links na regs: Panayoitis Stais, Gauteng Perdevereniging-voorsitter, Natalie Hogg, hanteerder, Allister Hood, beoordelaar, en Loraine Homer, beoordelaar saam met grootkampioen hings en opperste kampioen trekperd, Sympa de Bellevue

Sympa is in 2009 deur Johan Henning, van die Summerwind Percheron Stoet op Klipkop, van Frankryk af ingevoer. Sympa se moer, Mona 18, was in 2007 die groot kampioen merrie in Frankryk en sy vaar, Lido 3, is ’n beproefde hings by die Nasionale Percheronstoet in Le Pin, Frankryk.

Sympa se eerste nageslag is in 2010 gebore en die vullens lyk baie belowend. Al staan hy 17.2 hand hoog, en trek hy die skaal tot by ’n ton, maak Sympa se persoonlikheid van hom die sagmoedige reus waarvoor die ras so bekend is.


Grootkampioen reunperd, Summerwind Diesel saam met hanteerder Natalie Hogg
Foto’s: Jean-Leo Dugast

Die eerste Gautengse Provinsiale Kampioenskap vir Percherons is ook by die Perd van die Jaar Skou geloods. Die vraag na skoue waar die swaartrek rasse vertoon word het die Percheron Perdetelersgenootskap van Suid-Afrika genoop om die Kampioenskapskou aan te bied.


Enkeltuig kampioen, Trek-Lekker Lora, van die Summerwind Stoet

Skouklasse het die volgende ingesluit: in-hand, ry en tuig-klas en die nuwe gewigtrek klas, wat groot skares gelok het. Alhoewel die Percheron een en ’n half keer sy eie gewig behoort te kan trek, het die wenperd die kompetisie op 520 kg gewen.

Die Summerwind Percheron stoet het met byna al die pryse weggestap. Hulle teel merrie, Trek-Lekker Lora, is aangewys as senior kampioen trekperd en Percheron merrie bo drie jaar. Lora het ook die enkeltuigklas verower.


Wenner van die gewigtrek, Elsenburg Marinus, met Jan Engelbrecht

Die hings, Elsenburg Marinus, het die gewigtrek klas gewen, is aangewys as reserwe kampioen teel hings en het ’n vyfde plek in die skouryklas verower. Summerwind Diesel is as die Percheron kampioen reunperd aangewys en hy het vierde geëindig in die skouryklas.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online