Opvallend was dit in ’n onlangse elektroniese uitgawe van Beeld dat die eerste
vier nuusstories oor die polisie gaan. En drie van die vier stories was geensins
vleiend vir die mense in blou nie. Die opskrifte: ‘Geweer op kinders’, polisiemanne
het kinders met AK’s aangehou, ‘Kopskoot het net ‘geklik’, ’n polisieman
het sy dienspistool teen ’n man se kop gedruk en die sneller getrek en
‘Metropolisie teiken polisie’, ’n jammerlike toedrag van sake, om die minste te
sê.
Op ’n ingewing besluit ons toe om ‘polisie’ by Beeld se soekenjin in te tik. Op
dié manier sou ons hopelik vasstel dat die betrokke dag se koerant die uitsondering
eerder as die norm was. Die hoop hét toe beskaam.
Die soekenjin roep presies 100 stories uit die afgelope ses maande op. Hiervan
handel nie minder nie as 60 oor die vergrype, onbekwaamheid, laksheid, luiheid,
misdrywe, misdade en mistastings van polisielede.
Ons haal ’n aantal koerantopskrifte aan wat die strekking van daaglikse polisieoptrede
in Suid-Afrika duidelik sal uitspel:
“Polisie skop en dreig; Polisie steel glo skape; Polisie verswyg 147 misdade;
Polisie skiet boer; Polisie verneder met dwelmtoets; 538 lede van polisie is self
skuldig; 30 van polisie in Gauteng vasgetrek; Siekteverlof kos polisie meer as
R500 miljoen; Polisie se regshoof geskors; Polisielede roof skole; Polisie ry hom
glo van pad af; Polisielede verkrag en martel al hoe meer; Polisie verloor R16m
se wapens in nege maande; Polisie roof wat boewe agterlaat; Verlore dossier
laat 2 van polisie loskom”, en só blink die polisie deurlopend uit as die makers
van slegte nuus in die land.
Kan daar nog enige twyfel by die owerheid wees oor die rede vir die wegholmisdaadsyfer
in die land? Die ontstigtende ironie van die hele gemors is dat
die regering se poging om misdaad te bekamp met die aanstelling van
duisende nuwe polisielede, presies die teenoorgestelde uitwerking het. Dit is
’n geval van duisende nuwe wolwe om skaapwagter te speel.
Die nasionale polisiehoof, genl Bheki Cele, het selfs onlangs die verstommende
verskoning aan die parlement voorgelê dat die polisiediens ’n reddingsboei vir
desperate werksoekers geword het wat ’niks anders kan doen nie’. Die polisiediens
lok nie die room nie, het Cele gekla, maar die ‘samelewing se slegstes’.
As die land se ‘top’ polisieman bewus is van die kern van die probleem, sal
iets daaraan gedoen word, reg? Verkeerd.
Hoe belaglik lyk dié stelling van Cele nie, as dit saamgelees word met ’n ander
storie wat die soekenjin opgeroep het: ‘Wittes in hofstryd oor poste in polisie.’
Die inleiding van dié berig lees: ‘Poste in die polisie word eerder vakant gehou
as om wit mans daarin aan te stel.’ En ons probeer nie beweer dat alle wit
mans goeie polisielede sal maak nie. Dit gaan hier oor opgeleide, bekwame
burgers van die land wat weens hulle velkleur, nie aangestel word nie. |