Goue poedingklip bewaar sy ryk geheim jare lank op Kerkplein PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 28 February 2011 06:19
Untitled Document

Wie sou nou kon raai dat die eerste Engelse Volksraadlid van die Zuid-Afrikaansche Republiek lank voor die Struben-broers goud aan die Witwatersrand ontdek het?

John Robert Lys se goudbelaaide ‘poedingklip’ het jare lank as deel van sy klipversameling in sy studeerkamer neffens Kerkplein gelê voor die Strubens begin het om die ryk Witwatersrandse goudaar te ontgin.

Die eerste goudontginning was naby die plek waar Lys sy pragtige poedingklip ongeveer twee dekades vroeër opgetel het.

John Robert Lys, ’n winkelier in ou Pretoria, was aangetroude familie van Harry en Fred Struben, wat volgens die geskiedenisboeke die eerste goud aan die rand ontdek het 16 jaar ná John sy goue klip gekry het. Albert Brodrick, ’n toekase winkelier bekend as Albertus Broodryk, en James Rous, uitgewer van De Volksstem was, soos Harry Struben, ook met susters van Lys se vrou, Olivia Selina Fry, getroud.


Kerkplein met die Lys-huis in die middel. Kyk na die klok van die eerste kerk wat op Kerkplein gebou is en in 1880 afgebrand het
Foto: Rosa Swanepoel se versameling.

Eerste Engelse
Lys was ’n amateur geoloog, hy kon Latyn lees, het graag solo areas gesing en was ’n rare Engelsman in die Zuid-Afrikaansche Volksraad. Daar is selfs bespiegel dat hy in die 1850’s die eerste Engelsman in Pretoria was, maar dokumente in die Staatsargief bewys dat die twee Devereau-broers en William Skinner voor hom hier was.

John het in 1855 in Pretoria aankom toe hy ’n jagtog na die binneland onderneem het. Hy is op 17 Januarie 1829 as die tweede seun van John Stephenson Lys, ’n dominee van die Engelse Kerk van St Anne op Alderney, die mees noordelike eiland in die Engelse kanaal, gebore. John het in 1850 in die Kaap aangekom en het daarna naby Harrismith gaan boer.

Hy het, soos so vele Pretoriase pioniers, as handelaar hier aangekom, maar knap 11 jaar na sy aankoms, in 1866, is John tot die Volksraad verkies en is sy tweede mynboumaatskappy in die lewe geroep.


Heel links op die foto is JR Lys se huis en besigheid. Regs is die eerste Goewermentsgebou en reg agter dit Pretoria se eerste tronk

Staaltjies
Baie staaltjies is oor dié kleurvolle ou Pretorianer vertel. Hy was een van President Burgers se groot aanhangers en het selfs in 1876 ’n sangsolo gelewer by die onthaal, wat hy help reël het, om President Burgers terug te verwelkom na een van sy vele Europese reise.

President Burgers is Europa toe om ’n lening van goud vir die republiek te kry. Een van die voorwaardes vir dié lening was dat ’n soortgelyke hoeveelheid van die Zuid-Afrikaansche regering se banknote vernietig moet word. John is in beheer gesit van dié projek en hy het besluit om die note in die oond waarin sy vrou brood gebak het, te verbrand. So het dit gebeur dat sy dié spesifieke dag ’n brood ter waarde van £50 000 gebak het.

Rondom dié tyd moes John ’n mediese dokter, wat ’n hele ry indrukwekkende sertifikate in Latyn teen sy spreekkamermure gehad het, gaan besoek. Om die wagtyd te verkort, het John die sertifikate staan en lees en agtergekom dat dít wat daar staan, niks met mediese opleiding te doen het nie.

In plaas van kwalifikasies, was die geskrifte reseppies en selfs gebede in die Latynse taal. Dit was seker maar die Latyn wat die amptenare wat moes besluit oor die man se kwalifikasies, van sy egtheid oortuig het. John het egter ingegryp en Pretoria was minus ’n kwaksalwer.


John Robert Lys, sy vrou Olivia Selina, ’n nooi Fry, hul seun Godfray en twee dogters

Grense
Selfs John se Volksraadkommissies was legendaries. Toe sy vriend, Reilly van Maquassi, die eerste diamant in die Vaalrivier in 1869 ontdek het, is John deur die Volksraad gevra om dadelik soontoe te gaan om die grense tussen die Kaap, Vrystaat en Transvaal daar te stel. Hy het op die grenskommissies by die grense met Portugees Oos- Afrika, die Vrystaat, en die Rolong, op die republiek se westerse grens, gedien. Hy is ook na Swaziland toe Amaswazi, die hoofman, dood is om te help om die grense tussen die republiek en Swaziland af te baken en om die nuwe hoofman te help kies.

Aktiwiteite
In haar Ou Pretoria nuusbrief sê Rosa Swanepoel dat dit moeilik is om te glo dat een persoon by so baie aktiwiteite betrokke kon wees. Vat ’n jaar soos 1874 byvoorbeeld: John Lys sluit aan by die Vrywillige Artillerie Korps, dien op ’n komitee om die regulasies van die artillerie te bepaal en word ook gekies as kommanderende offisier van die korps.

’n Vergadering vir die stigting van ’n munisipaliteit word by sy huis gehou; hy dien op ’n komitee vir die stigting van ’n skool vir jong dames; is betrokke by die bestuur van die Vrymesselaars, die Pretoria Klub en die krieketklub; is ’n beampte by die perderesies; en verteenwoordig Pretoria in die Volksraad.

John het ook kragte saamgesnoer met biskop Bousfield om die eerste Anglikaanse gemeente in die dorp te stig.


Die straat in die middel van die foto is Kerkstraat-Oos. Heel links is Albert Brodrick se “The hole in the wall”. Op die oorkantste hoek is erf 352 en die winkel van Field en Hoffmann, eers Field en Nephew, wat oorspronklik aan JR Lys behoort het

Winkel
Maar kom ons gaan terug na die beginjare, toe John as winkelier in Pretoria aangekom het. Volgens Rosa Swanepoel het John in 1857 ’n handelshuis in Pretoria geopen. In 1858 koop hy erf nr 348 op die suid-oostelike hoek van Kerkstraat en Kerkplein. Dié winkel was oorkant Pretoria se eerste tronk. In 1864 koop hy erf nr 352 op die suid-oostelike hoek van Kerkstraat en Kerkplein. In 1874 bou hy ’n nuwe winkel op die erf maar voor die winkeliers ingetrek het, het Pretoria se vrouens van die kans gebruik gemaak om ’n bazaar in die pakhuis te hou om geld vir vermaaklikheid in te samel. Later is daar ook ’n groot bal daar gehou om die winkel in te wy. Selfs ’n bal vir kinders is op ’n Saterdagmiddag daar aangebied.

John het die winkel aan Field en Nephew verhuur. In 1876 het hy die westelike deel van die erf verkoop en in 1878 die res van die erf. Dieselfde jaar ontbind die firma Field en Nephew en word Field en Hoffmann.

Trou
John is in 1859 met Olivia Selina Fry getroud. Sy was die stiefdogter van eerwaarde William G Cole van ‘Trinity College’ in Dublin. Vier van haar halfsusters het hulle ook in Pretoria gevestig en is hier getroud. Hulle was Isabella Louisa Cole, getroud met Albert Brodrick, Alexa Cole, getroud met James Rous, uitgewer van De Volksstem, Mary Cole getroud met Harry Struben, en ’n vierde suster is getroud met ’n Fraude.

Die Lys-gesin se huis het bekend gestaan as “The Eyrie” en John het elke jaar die Engelse koningin se verjaarsdag hier gevier deur ’n klein skeepskanon vol loskruit te laai en los te trek met ’n saluut van 12 kanonskote.


Die Duitse geoloog Carl Mauch

Prospekteer
John was ’n geesdriftige amateur geoloog wat dwarsdeur die land gaan prospekteer het. Met die loop van jare het sy studeerkamer in ’n museum vol van edelgesteentes en metale ontaard.

Hy het lood in Mariko ontdek en ná die ontdekking het President Pretorius die eerste mynlisensie in die Zuid-Afrikaansche Republiek aan John toegeken. Dit het hom die reg gegee om dwarsdeur die republiek te gaan prospekteer soos hy sou wou.

’n Mynmaatskappy is in April 1860 met ’n konsessie van die Volksraad gevorm, en is die Transvaal Algemene Mynmaatskappy genoem. Die doel was om lood te myn vir die maak van koeëls, maar die maatskappy was ’n mislukking en is in 1865 ontbind.

In 1866 probeer John weer. Dié keer noem hy die maatskappy die Zuid-Afrikaansche Republiek Mynmaatskappy. Die maatskappy se konsessie het hul toegelaat om lood, koper, yster en tin te myn, maar nie diamante of goud nie. Daar is ook ooreengekom dat geen ander maatskappy dié metale vir die volgende vyf jaar mag myn nie. Weereens het die maatskappy misluk weens ’n gebrek aan kapitaal.


Die Lys-huis van naderby

Vassit-klip
Tog was John steeds oortuig daarvan dat daar volop goud aan die Witwatersrand was. Die bewys daarvan, die poedingklip, het dan in sy studeerkamer gelê. Angela P. Makin, John se agterkleinkind, het ‘The Story of the Golden Vlei’ geskryf oor dié poeding-klip.

John was met ’n ossewa met die Ou Pionierspad wat van Pietermaritzburg na Pretoria geloop het, op pad huis toe. In die omgewing van Heidelberg was daar ’n turfagtige vlei op die plaas Driefontein, vandag Witfield, waar John en sy waens voor sononder moes deur.

Die drywer wat langs John voor op die wa gesit het was ’n Boesman genaamd Kleinboy, die eerste mens wat aan die poedingklip geraak het. Hoe dit gebeur het, is dat die voorste ossewa in die vlei vasgesit het en John vir Kleinboy gevra het om groot klippe aan te dra om rondom die wawiele neer te sit. Die laaste strale van die sakkende son het direk op een klip geskyn en John kon die blink, goue kleur duidelik sien.

John se plan was om terug te gaan na dié plek toe en om ander mense intussen daar weg te hou. Hy het die storie versprei dat waens in daardie vlei se turf vassit en dat die roete verander moet word. Selfs amptenare wat kaarte vir die regering opgestel het, het vir die storie geval. Hulle het die vlei Lysvlei begin noem en hul roetes rondom dié vlei beplan.


Die grafte van John Robert Lys se vrou, Olivia Selina, en sy seun, Robert Oliver Godfray, in Kerkstraat, Pretoria-Wes

Geoloog
In 1867 het John ’n Duitse geoloog, Carl Mauch, na Lysvlei geneem. Hy het bevestig dat daar wel goud is, maar dié inligting het geensins ’n goudkoors in die Witwatersrandomgewing tot gevolg gehad nie. Dit het eers 19 jaar later gebeur. Lys en Mauch het self nie genoeg kapitaal gehad om die goud te ontgin nie.

Tien jaar later het John sy Lysvlei vir ’n Australiese inspekteur van goudvelde, A Armfield, gaan wys. Weereens het ’n kenner bevestig dat daar goud is, maar Armfield is deur Lord Shepstone Transvaal toe gebring om die goudvelde by Eersteling, Selati, Ohrigstad, Pelgrimsrus en Barberton te gaan inspekteer ek kon nie by Lysvlei tydmors nie. Hy is vort op sy amptelike missie en voor hy die verslag oor die ontdekking van goud aan die Witwatersrand kon skryf, is hy aan swartwaterkoors dood. John se seun, Godfray, het egter nooit van sy pa se onwrikbare geloof aan ’n ryk goudaar in die Witwatersrand-omgewing vergeet nie. Hy het later saam met sy ooms, Harry en Fred Struben, die eerste klont goud aan die Witwatersrand fyngemaal.

John is op 14 Augustus 1880 oorlede. In die huldeblyk in die koerante word genoem dat hy in 1878 aangestel was as landdros en dat hy ’n direkteur van Field en Nephew was. Daar word geen melding van die poedingklip of sy prospektering gemaak nie.

John se agterkleindogter, Angela, skryf dat die Lys-familie met nabetragting bly was dat John voor die twee Vryheidsoorloë oorlede is. Sy sê dat hy altyd vir die vooruitgang van die Zuid-Afrikaansche Republiek gewerk het en dat dit sy hart sou breek om Boer en Brit in ’n oorlog teen mekaar te sien. Ons kon nie vasstel waar John begrawe is nie. Sy vrou Olivia, en seun Godfray is langs mekaar in die Kerkstraat, Pretoria-Wes begraafplaas begrawe.

 

© 2019 Die/The Bronberger