Die lewer is geen lied by Rhapsody?s PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 28 February 2011 06:06
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel val ongenooid in by kuierplekke in die Bronberg-gebied en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

As ’n ou by ’n kuierplek aangedoen het en jy loop sit om jou skryfsel daaroor te skryf, staan een of twee dinge van die kuierervaring gewoonlik heel voor in die geheue-tou. En dis gewoonlik daardie ‘dinge’ waarmee jou storetjie aangehef word.

Só was dit ook met ons besoek aan Rhapsody’s by die betreklik nuwe Parkview koopsentrum in Garstfonteinweg.

Maar dié keer het ek besluit dit sou effe onregverdig wees om te begin met dit wat die varsste in my geheue uitstaan. Daarom val ek eerder met die positiewe weg deur te sê hierdie Rhapsody’s is ’n netjiese, ruim plek met ’n baie vriendelike bestuurder en personeel. Die hamburger wat die ou neffens ons bestel het, was lekker groot en sousig en het as bonus oorteveel skyfies vir ’n honger reisiger op die bord opgestapel gehad.


Die netjiese kroeg in Rhapsody’s se rokersafdeling

Ander mense wat sushi bestel het, het heel tevrede gelyk en die sushi self het op die oog af heel skaflik en substansieel voorgekom.

Die kroeg in die rokers-afdeling is goed ingerig met twee kroegmanne en genoeg sitplek vir ’n rugbyspan - sonder die banksitters. Die een kroegman gooi terloops ’n baie stywer dop as die ander een, en as span kan hulle volgens die spyskaart ’n baie groot verskeidenheid mengeldrankies (cocktails) maak.

Metgesel het haar hoender trinchado met oorgawe geniet. Dit word voorberei met peri-peri, paprika, knoffel, en julienne snysels van rooi en geel pepers. Dit kom saam met ‘crispy’ brood vir die ryk, geel sous. Afgesien van al die peper en peri, verseker sy my dat dit nie oordadig brand nie. Dit kos R52.

Die spyskaart wat voor ons neergesit is, se inhoud was divers en oorvloedig. Elf ontbytkeuses, baie burgers, sushi-keuses, ciabata-broodjies, ander broodjies, muffins, tramazinis, schwarmas, slaaie, trinchado’s en natuurlik ‘wraps’ wat hulle ‘Rhaps’ noem.

Vreemd vir my was dit dat die spyskaart so min geregte van werklike substansie bied. Later sou dit blyk dat dit my eie oningeligtheid was wat veroorsaak het dat ek ’n baie onbevredigende eetervaring gehad het. Eers ná ek my fatale bestelling geplaas het, het ek die kelner terloops gevra of hulle dalk nog ’n spyskaart het.


’n Mopaniewurm is ’n mooi een. Agt stukkies gemartelde lewer en ses uieringe

Sy deel my mee dat hulle wel een het wat hulle ná 3 nm vir die gaste gee. Ja, ek kan voor drie ook van díé al la carte spyskaart af bestel. Hoekom het sy dit nie vir ons gesê nie? Nee, ons moet vra vir die a la carte spyskaart as ons dit wil sien, sê sy. Dis beleid. Ek los dit daar.

Van die ‘Lite’ spyskaart af het ek toe maar die lewer en uie bestel. Ek het al baie groter foute gemaak, maar nie op daardie betrokke dag of selfs in daardie week nie.

Ek is nogal baie partydig vir lewer en uie op kapokaartappels met ‘bacon’, soos die Engelse hom maak. Rhapsody’s het nie ’n ‘koekenkloe’ van lewer nie.

En dis nie ’n kwessie van smaak nie, jy doen dit net nie aan ’n onskuldige stukkie lewer wat Rhapsody’s daaraan doen nie. Om by my positiewe voorneme te hou, kan ek sê dat die ‘mash’ en bruinsous gangbaar was en die spek normaal - en dis al.

Die spyskaart sê dat die lewer saam met gekarameliseerde pere bedien word. Die twee stukkies peer op my bord is van dié wat uit ’n blikkie kom. Die uie deel van die lewer-enuie is presies ses pangebraaide uieringe, waarvan drie al goed groen is van die ouderdom en drie piepklein ringetjies uit die hart van die ui is.

Toe die bord voor my beland, het ek eers gedink hulle het die bestelling verkeerd gekry. Dié van julle wat gedroogde mopaniewurms ken, sal ’n goeie idee kan vorm oor hoe die agt gemartelde, piepklein stukkies lewer op die bord lyk. Siestog!

Hulle het ’n degie om die pinkielewertjies gesit wat deur oordadige diepbraai kliphard daarin vasgeswys is. Jy moet ’n baie skerp mes, gesonde, sterk tande en ’n voorsmaak vir karton hê as jy Rhapsody’s se lewer wil eet. Ná ek drie van die happies met die hulp van my drankie afgesluk het, het ek die stryd gewonne gegee.

Maar soos ek gesê het, die mense is vriendelik en soms maak ’n ou maar net die verkeerde keuse. Toe die hoofkelner pertinent kom navraag doen of die kos lekker is, het ek nee gesê en verduidelik hoekom ek so dink. Hy het (vriendelik) gesê hy is jammer om van my probleem te hoor, maar dis soos hulle lewer maar is.

 

© 2019 Die/The Bronberger