Wat maak die Bronberg-gebied so spesiaal? 'n Mens sou 'n hele rits antwoorde
op dié vraag kon gee wat almal sou kon dui op die besondereBaie spesiale
mense uniekheid van die gebied.
En een daarvan sou wees dat 'n onafhanklike
gemeenskapspublikasie, uitsluitlik te danke aan sy lesers en die sakelui van
die gebied, reeds sy 100e uitgawe versprei het.
Maar aan die kern van die Bronberg se uitsonderlikheid, staan sy mense en
hulle warmhartige omgee vir hulle omgewing en vir mekaar.
Natuurlik kry jy hier, soos in enige ander gebied, nie altyd harmonieuse
samehorigheid onder al die inwoners oor alles nie. Dit sou onnatuurlik
wees.
In hierdie 100e uitgawe van Die Bronberger is egter weer genoeg bewys
daarvan dat 'n groot groep Bronbergers 'n ruim omgewingsliefde en 'n
naasteliefde koester.
In 'n lesersbrief sê Johan en Susan Geyer van Zwavelpoort dankie vir die
oorweldigende bystand wat hulle ervaar het toe hulle huis gedeeltelik afgebrand
het. Binne vyf tot tien minute was 80 mense op die toneel om te
help. Hulle was daar omdat hulle omgee. Ons haal aan uit die brief uit:
"Ek het in my lewe nog nooit dit so beleef dat daar nog mense is wat vir
hulle medemense omgee nie."
Ezette Roberts van Mooikloof het haar ontferm oor 'n verdwaalde hond
van 'n mede Bronberger en vra in 'n brief hulp om die eienaar op te spoor.
Ezette sluit die brief af deur te sê sy moet vermeld dat sy dink "Die Bronberger
is tops." En ons moet op ons beurt vermeld dat ons dink omgeemense
soos Ezette is tops.
André Erasmus skryf dat 'n 'baie groot liefhebber van ons omgewing,' Jan
Burger 'n man betrap het wat rommel in die gebied stort. Jan het die roofstorter
gekonfronteer en aangedring daarop dat hy sy gemors moet verwyder.
André en Jan het met moeite die identiteit van die morsjors nagespoor
en mense teen hom gewaarsku. Omdat hulle omgee.
Verlede maand het ons 'n brief uit Italië gepubliseer van 'n man wat meer
inligting soek oor sy pa se oorlogstydse internering in Cullinan se aanhoudingskamp.
In hierdie uitgawe is 'n briefie van 'n Wapadrander wat laat
weet die man het danksy hulp van lesers reggekom.
Ander Wapadranders, berig ons in hierdie uitgawe, het meegedoen aan 'n
middernagtelike reddingspoging van 'n reuse luislang wat in die woongebied
beland het. Die ou grote is uiteindelik met die hulp van 'n vroulike
slangvanger aangekeer en in 'n bewaringsgebied vrygelaat.
Nog sprekende voorbeelde van die omgee-mense van ons gebied is in dié
100e Bronnie vervat. Voorbeelde soos Gerbrand Bruin van Klipkop se stryd
teen indringer Pom-Pomplante, Douw Venter se baklei teen die besoedeling
van die Zwavelpoortspruit, 'n groot span Bronbergers wat hulle tyd
afstaan om 'n 'vee-operasie' in die berg te doen om diewe se ontsnaproetes
te kry en die mense van Pienaarspoort se kommer oor 'n silikamyn wat
grondwater van die omgewing kan benadeel.
Ons voel ons bevoorreg om reeds in 100 uitgawes oor mense soos dié te
kon verslag doen en om ons eie bydrae tot 'n baie spesiale omgeegevoel
van 'n baie besonderse gemeenskap te maak. |