Is hierdie ?n noodtoestand? Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 23 April 2008 02:00
Untitled Document

Stel jou dié toneeltjie voor: Jy en jou gesin ry vroeg die oggend met Lynnwoodweg- verlenging af, op pad kerk toe. Dis ‘n vakansiedag en daar beweeg nie veel verkeer op dié pad, wat gewoonlik erg besig is nie. Lekker rustig is dit. Skielik sien jy ‘n noodvoertuig van Kungwini wat teen ‘n vreeslike spoed aangejaag kom. “Seker iewers ‘n ongeluk, of ‘n brand, of dalk het ‘n boom oor die pad geval met gisteraand se kwaai stormwinde,” dink jy.

Maar dan sien jy hoe die noodvoertuig in ‘n stofwolk by ‘n klompie mense stilhou wat langs die pad staan. Die mense klim in. Geld verwissel hande tussen die bestuurder en die passasiers en die noodvoertuig trek weg en jaag voort op sy taxitog.

Ongelukkig is hierdie nie net ‘n denkbeeldige toneeltjie nie. Dit is die beskrywing van die wrede werklikheid soos waargeneem deur ‘n Bronbergse egpaar op die oggend van Goeie Vrydag. Op bl. 16 kan meer daaroor gelees word in Breytie Breytenbach se rubriek. Die ironie van die voorval is dat die einste voertuig net ‘n paar dae tevore nie beskikbaar was toe ‘n groot boom wel ná ‘n storm oor Lynnwoodweg geval het en menselewens in gevaar gestel het nie. Toe is gesê dat die noodvoertuig nie wil vat nie.

Voorvalle van swak of afwesige diens van Kungwini se nooddienste oor die afgelope jare is legio. Dit geld eintlik alle dienste wat dié plaaslike owerheid veronderstel is om te lewer, as ‘n mens mooi daaroor sou dink. Maar in gevalle waar mense se lewens en eiendom in gevaar is, sou jy in enige beskaafde amelewing darem ‘n mate van verantwoordelikheid verwag.

Jy sou ook van enige owerheid in ‘n beskaafde samelewing verwag dat bekwame en verantwoordelike mense in die eerste plek in poste aangestel word waar hulle met noodtoestande te kampe het. En ‘n beskaafde owerheid self sou nie ‘n voorbeeld gestel het wat bes moontlik die amptenare in sy diens kan laat dink dat skelm en selfs onwettige optrede die norm is nie.

Dit kan amper met sekerheid aanvaar word dat die aanwending van amptelike voertuie, soos Kungwini se noodvoertuig, vir die persoonlike verryking en gerief van onverantwoordelike amptenare, eerder die reël as die uitsondering is. Baie van ons is bewus van sulke voorvalle en ongelukkig het sommige van ons in gevalle al so gewoond daaraan geraak dat ons maar net kopskuddend skouers optrek.

Gelukkig was die mense wat op die noodtaxi-geval afgekom het, verantwoordelik genoeg om dit aan te meld. Ons wag in spanning om te sien wat daarvan gaan word.

 

© 2020 Die/The Bronberger