Ek sal aspris by Piggly Wiggly inval PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 24 January 2011 05:00
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel val ongenooid in by kuierplekke in die Bronberg-gebied en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

In my ervaring is ’n koffiewinkel nie ’n plek wat ’n lekker-honger fynproewer aspris sal besoek nie. Dis eerder ’n plek vir ’n ‘ligte’ versnapering of ’n stuk koek as jy dan moet.

Dit was altans wat ek gedink het vóór ons op ’n onlangse Sondag by die nuwe Piggly Wiggly by Lynnwoodweg-verlenging se Plantland ingeval het.

Dis ’n stywe trek van Plantland se parkeerterrein af tot by Piggly Wiggly. Want jy moet toontrap deur die hele lengte van die kwekery om by die kuierplek uit te kom. Maar dis ’n aangename stappie wat help met die eetlus - en die drinklus, veral.


Jy kan binne of op die stoep in die rustige parkatmosfeer kuier

Piggly Wiggly se kuierstoep is ’n rustige uitspanplek omring deur pragtige ou sambreelbome.

Voëlgeluide en die agtergrondmusiek, wat my terloops geval het, is al wat jy hoor, omdat jy so ver van die besige Lynnwoodweg-verlenging af is.

Maar dis die omvang en aard van die spyskaart, in goeie, suiwer Afrikaans, en die beskikbaarheid van iets meer substansieel as koffie te drinke, wat my die aangenaamste verras.

Jy kan maar aspris gaan inval vir ontbyt of middagete by Piggly Wiggly as jy goed honger is. En as jou behoefte lekker koffie of cappuccino en tuisgebak is, kan jy maar ook.

Jy kan kies uit ’n hele rits ontbyte soos die plaasontbyt teen R39, die boere-ontbyt teen R49 of die plaasomelet met ’n kombinasie van drie vulsels, ook teen R49. Volgens die spyskaart word ‘plaaseiers’ gebruik. Wonder tog of ’n ou ’n plaas gaan kry as die ding uitbroei . . .


‘n Baie besonderse kerrie en stewige porsie gerookte salm

Maalvleis is die ‘beesboerontbyt’ se hoof bestanddeel en dit kos R46. Jy kry ’n lekker swaar, tuisgebakte bruinbrood saam met alles. Die besonderse brood is ook te koop by die toonbank.

Franse roosterbrood, croissants met verbeeldingryke vulsels of ’n ‘gesondheidsontbyt’ kan ook bestel word.

’n Groot verskeidenheid geroosterde toebroodjies, oopbroodjies, quiches, gevulde pannekoek en gevulde aartappels se pryse wissel van iets in die R30 tot iets in die R50.

Die keuse vir middagete loop wyd en te oordeel aan wat ons gesien en beproef het, is die disse met sorg en kundigheid voorberei. Dis mooi en lekker. Sop van die dag kos R28.

Die ‘hutspot’ is ’n kerrie van bees, hoender of lam. Ek besluit op die lam en is nie spyt nie. Die kerrie is baie geurig en die lam is sag. Dit byt sonder om oordadig te brand en die porsie is ruim. Net reg vir my. Die hutspot kos R67.


‘n Toneel van Piggly Wiggly se oorsprongplaas in die netjiese spyskaart

Nog middagetekeuses is ondermeer, speseryhoender teen R65, Farmer Brown hoender en bros spek teen R49, lasagne teen R45, en die pasta is Alfredo of Neapolitan. Metgesel is gaande oor die gerookte salm met roomkaas en slaai op die tuisgebakte bruinbrood. Die porsie is ruim en kos R47.

Piggly Wiggly is ’n familiesaak wat sy oorsprong in die Natalse middellande het. Dit het begin as ’n padstal wat plaasprodukte van die Kassier-gesin naby Howick verkoop het. Later het hulle koffie aan hulle klante bedien en dit het gegroei totdat die eerste Piggly Wiggly oopgemaak is. Nog ’n tak is in Kloof oopgemaak en nou ook een in die Bronberg-gebied.

Ek verneem daar is in hierdie uitgawe van Die Bronnie ’n advertensie van Piggly Wiggly. Hulle sê as jy die advertensie saamvat, kan jy ’n gratis cappuccino by hulle kry. Dis glo ‘award-winning’ cappuccino.

My raad is om jou uitgawe van Die Bronberger saam te vat, eerder as om dit te versnipper. Onthou net om dit weer saam te vat as jy loop.

 

© 2019 Die/The Bronberger