PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 24 January 2011 04:52
Untitled Document

Danie en Juanita Jamneck

Ons het in 2002 in die Bronberg- gebied ingetrek – net neffens die pad wat vandag vir sekuriteitsdoeleindes as die rooi pad bekend staan. Vir ons was dit vryheid uit die stad en vandaar die naam “Liberty” vir ons stukkie plaas.

Al is dit ’n skamele agt jaar gelede, was die paaie baie stil. Daar was min heinings en hekke en net af-entoe ’n skaap, bok of gekuierde plaaslike bevolking op die pad. Juis daarom was die rooi pad baie gewild onder fietsryers, natuurlik tot die “locals” se groot frustrasie.

In reaksie op ’n uitnodiging van ’n vriend om saam aan die Argus deel te neem, het my man, Danie Jamneck, vir hom ’n brief geskryf. Ek het my eie aanpassings waar nodig gemaak. Diegene wat hom ken, sal weet hoekom:

“’n Bicycle is nie my gunsteling vervoermiddel nie. Nou bly ek op ’n plot en die stadsmense geniet dit om uit te kom. Nie met wat nie, maar met verdomde bicycles en dan ry hulle side by side die hele teerpad vol en sukkel ’n mens om verby te kom.

Hulle gaan so ver as om wragtig die verkeer te stop met ouens wat sulke rooi vlaggies rondswaai. Het jy al met twee perde in ’n perdesleepwa agter die bakkie gesit terwyl jy ’n paar minute lank moet wag vir die manne op die bicycles en die perde raak ongeduldig want hulle wil uit en skop aan die boks en na mekaar en na die makker wat agter saam met hulle moet ry en sy oë word groot en my mond dik en my vrou s’n nog dikker?

So bou dit oor ’n tyd op en noudie oggend is ek haastig werk toe en voor my is ’n ou op ’n bicycle – in die middel van die pad - en ek sien daar kom ’n kar van voor af.

Ek druk die toeter so twee kortetjies, net om hom te waarsku en summier begin die ou met my vingertaal praat. Ek dog eers ek sien nie mooi nie, maar toe ek langs hom is, sien ek hy is wragtig besig om so ’n lui vloekvinger in my rigting te gooi.

Stom van verbasing, snel ek by hom verby, maar toe tref dit my: dis my pad dié en sy *&%# en ek roep die ABS van die bakkie hard nader. Dis toe nou tot hier toe en nie verder nie en ek besluit dat ek hom vandag die lessie gaan leer wat sy mamma jare terug vir hom moes beduie het. So ’n bakkie kan darem reverse en so sien die ou dit toe ook raak. Dit kon dalk die intensie op my gesig ook gewees het wat hy sien.

En hy swaai daai bicycle op ’n grondpaadjie in en trap dat hy bars. Maar die Nissan eet mos grondpad vir brekfis en dit is mos brekfistyd en daar voor is ’n hek en die hek is gesluit.

Nou het hy hierdie outfit aan met die stywe broekie met die knoppe orals en die skoene wat aan die pedale vasknip en die skoene wil nie losknip nie en die bakkie eet brekfis en alles stoei binne-in daai broekie soos die man sukkel. Net voor hy omval, kry hy die skoene los maar teen dié tyd is ek so naby dat ek die konsternasie en benoudheid op sy gesig nie net kan sien nie, maar ervaar.

My vrind, maar waar smyt hy daai dure bicycle dat hy daar trek, seil bo-oor daai hek soos ’n hekkiesatleet en vaar die veld in met ’n doel. Het jy al ’n ou sien stap met daai skoene? Man, dan moet jy hom sien poog om te hardloop op ’n klipperige grondpad en dit nog met een van daai broekies. En skielik sien ek die komiese kant van dit wat besig is om te gebeur en ek skater van die lag.”

 

 

© 2019 Die/The Bronberger