Flap se stert skeel wyfies min PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 January 2011 06:47
Untitled Document

Al ooit gewonder hoekom ’n flap so ’n lang stert in die broeiseisoen groei? Nee, sê die kenners; dit is nie omdat flapwyfies dink dis mooi nie.

Navorsers het ’n klomp flap-mannetjies gevang, hulle sterte in verskillende lengtes gesny en toe weer tussen die wyfies losgelaat. Die eerste feit wat aan die lig gekom het, was dat die mannetjies met die korste sterte makliker hul gebied verloor het as lang-stert mannetjies.

Tog was daar glad nie ’n verskil in die hoeveelheid wyfies wat in die kort- en langstert-mannetjies se gebied gebroei het nie. Onthou dat die flap meer as een wyfie in ’n broeiseisoen het. Sy gebied is 0,1 tot 0,2 hektaar groot en hy broei daar saam met ongeveer vier wyfies.

Blykbaar is die ding wat flap-wyfies beïndruk, die hoeveelheid nesrame wat die mannetjie begin bou. Sy sien waarskynlik nie eers sy flambojante stert raak nie. Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat die lang stert se doel is om ander mannetjies te intimideer. Dié met die langste sterte spog met die grootste gebiede.

Die witvlerkflap, Euplectes albonotatus, is die enigste flap in die streek waarvan die mannetjie wit op die primêre dekvere het. Die broeiende mannetjie is pikswart met net ’n klein geel stukkie op sy skouervere. Sy snawel is dan ’n ligte blou-grys kleur.


Witvlerkflap
Foto: Leon, Birdforum

As hy nie sy broeikleed aan het nie, is die vaalbruin mannetjie steeds geel op die skouers en het ’n wit vlek aan die basis van die primêre vere. Sy snawel is dan horingkleurig. In die broeiseisoen is die mannetjie se bene en voete swart en as hy nie broei nie is hulle ’n pienkerige bruin kleur.

Die wyfie het swarterige strepe op ’n ligte bruin agtergrond, maar minder smeerstrepe as ander flappe en is onder baie ligkleurig. Nie-broeiende voëls vreet in groot swerms, baie keer saam met ander saadvreters. Hulle vreet meestal grassade, maar sal ook nektar drink en insekte vreet.

Die witvlerkflap bly in grasvelde en word gereeld op padskouers en die rand van lande gesien. Dié algemene standvoël se roep is ’n nasale zeh-zeh-zeh geluid en ’n herhalende witz-witz-witz.

Hulle broei van Desember tot Maart. Die nessie is ovaalvormig met ’n ingang bo aan die kant, en word ongeveer 1,3 meter bo die grond met grashalms geweef. Dis nie ’n baie netjiese nessie nie, maar is goed gekamoefleer deurdat omliggende grashalms ook sommer saamgeweef word in die nes. Die wyfie voer die binnekant van die nes met fyn grassies uit.

Twee tot vier eiers word gelê wat oor 12 tot 14 dae deur die wyfie uitgebroei word. Die kuikens bly 11 tot 14 dae in die nes. Die witvlerkflap word deur die Diederik geparasiteer.

 

© 2019 Die/The Bronberger