Lesers word skrywers PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 28 January 2019 09:46
Untitled Document

Welkom by 2019 se heel eerste Bronnie. Ons gee hierdie jaar se eerste tree met ‘n uitgawe wat ons weer tot die dankbare besef bring dat Die Bronberger oor die afgelope 16 jaar en vyf maande die versinnebeelding van ‘n ware gemeenskapspublikasie geword het.

‘n Duidelike maatstaf waarmee bepaal kan word in watter mate ‘n publikasie binne die gemeenskap wat hy bedien, in sy doel slaag, is die meelewing en interaksie van sy lesers en adverteerders. Ons is opreg dankbaar om te kan sê dat ons oordadig geseënd is met wonderlike, meelewende adverteerders en lesers.

Van meet af aan was ons bevoorreg om met elke uitgawe ‘n baie goeie oes lesersbriewe uit die gemeenskap te kon ontvang en publiseer. Dit op sigself kan dien as bewys van die bykans ongekende mate van meelewing en aanvaarding uit ons gemeenskap.

In hierdie eerste uitgawe van die nuwe jaar is ons nie net bevoorreg om weer met ‘n goeie vrag interessante lesersbriewe te kan spog nie, maar spontane bydraes uit ons lesersgemeenskap verteenwoordig ‘n groot persentasie van dié Bronnie se redaksionele inhoud.

‘n Besorgde leser van Zwavelpoort het foto’s en inligting gestuur oor rommel wat met plastiek en al in dié gebied se grondpaaie ingeskraap word. Die storie is op bladsy agt.

Op bladsy 11 is ‘n storie met foto’s deur Berdine Bezuidenhout oor grootskaalse rommelstorting langs Mooiplaats se Bloupad. Sy en haar man het besluit om iets aan die gemorsspul te doen.

Juanita Jamneck, ‘n leser van Mooiplaats, se nostalgiese terugblik op die Bronberg-gebied se eerste ryskole en die legendariese oom Bert kan op bladsy 12 en 13 gelees word.

Die kostelike verhaal van die bobbejanebeeld wat met ‘n lang draai op Bashewa se hoogste kruin beland het, soos deur die grondeienaar aan Gene de Lange vertel, kan op bladsy 18 gelees word.

Ons gereelde Leserslens is op bladsy 26 en 27. Lesers het hulleself weer oortref met die instuur van skitterende foto’s uit ons gebied.

Prof Cheryl McCrindle vertel op bladsy 28 die bykans ongelooflike storie oor ‘n mak torgogga (oogpister) wat die afgelope vyf jaar ‘n gereelde besoeker aan haar veeartspraktyk op Kaalfontein is.

Die gogga is in 2013 deur iemand vir identifikasie gebring en kom sedertdien gereeld kuier vir sy/haar happie hondekos.

Die genoemde stories en nog meer wat in hierdie uitgawe opgeneem is, het ons te danke aan die meelewing van ons mense en dit laat die hart sommer warm klop.

 

© 2019 Die/The Bronberger