Brandgevare in jou huis Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 26 July 2016 05:47
Untitled Document

Elke winter brand huise in die Bronberg-gebied af. Nie alle oorsake van dié tragedies kom van buite deur veldbrande nie en ons het gaan uitvind wat ‘n mens kan doen om brandgevaar in die bibberweer te verminder.

Vlamme, hetsy dit ‘n paar kerse of ‘n kletterende kaggel is, moet nooit sonder toesig gelaat word nie. Geen vlambare materiale moet naby ‘n oop vlam gelaat word nie. Gastoestelle moet so staan dat gordyne, vadoeke, handdoeke of beddegoed nie in die vlammetjie kan inwaai nie.

Hou spuitkannetjies weg van enige vorm van hitte en vermy ’n gas- of paraffienstoof wat stukkend is of lek. Moet nooit ’n vet- of olievuur met water blus nie.


Wees versigtig met muurproppe

Verhit
Kaggelvure, gasverwarmers en toestelle wat vlambare vloeistowwe gebruik moet slegs in ‘n goed-geventileerde vertrek gebruik word. Vermy die gebruik van kunsmatige blokke hout of produkte met ‘n petroleum basis in jou kaggel.

Vloeistowwe soos Keroseen word algemeen vir verhitting gebruik, maar kan jou longe beskadig in ‘n swak-geventileerde area. Die risiko van ‘n brand verhoog as jy dié soort vloeistowwe mors.
‘n Gassilinder wat lek is ook ‘n groot brandgevaar en die inaseming van gaswalms binne ‘n swak-geventileerde vertrek kan dodelik wees.

Muursokke
Moenie muursokke oorlaai deur te veel muurproppe alles by een punt in te druk nie. Die kenners sê ’n muursok moet net 15 ampère dra. Wanneer slegs twee toestelle aan dieselfde sok verbind word, kan dit oorlaai en die isolering om die kragkoorde kan beskadig word. Moet ook niks anders as gloeilampe in ligsokke inprop nie.

Moenie aan die kabels pluk as jy ’n prop uittrek nie. Skakel die elektrisiteit by die kragpunt af en vat die prop vas om hom uit te trek. Vervang alle proppe wat gebarste of uitgerafelde isolasie of ander tekens van verweer toon.


Moenie dat kragdrade onderdeur ’n tapyt of los mat loop nie

Kragdrade
Moenie dat kragdrade bo-oor ’n verwarmer, onderdeur ’n tapyt of oor ’n drumpel loop nie. Die isolasie kan verweer en ’n brand of lekkasie veroorsaak. Kyk gereeld dat geleidingskoorde nie beskadig of verslete is nie en dat geen oop draad by die omhullende isolasie uitsteek nie.

Water van ‘n lekkende geyser wat met onomhulde bedrading in kontak kom kan rampspoedige gevolge hê. Sit ‘n druppan onder die geyser om seker te maak dat enige water weg van gevaarareas gelei word.

Onthou dat selfs jou ou betroubare elektriese verwarmer se bedrading kan verweer, wat ‘n kortsluiting kan veroorsaak wat jou huis se uitklinkskakelaar sal aktiveer of vonke kan veroorsaak wat tot ‘n brand kan lei.

Uitklinkskakelaars
Uitklinkskakelaars beskerm jou huis se elektriese stroombaan teen kortsluitings en oorlading deur die vloei van die stroom te onderbreek. As dié skakelaar ophou werk, kan die smeltdraad binne jou verwarmer of ander elektriese toestelle ingee en ‘n brandgevaar veroorsaak.

Maak doodseker jy weet waar jou huis se hoofskakelaar is sodat jy dit kan afskakel as daar probleme is.

Elektriese komberse moet ‘n ruk voor jy bed toe gaan aangeskakel word en afgeskakel word sodra jy inkruip. Dit hou ‘n risiko van ernstige brandwonde of selfs elektriese skok in.


Beheer brandgevaar met nuttige wenke

Wenke
Daar is baie wenke om veilig warm te bly, sonder dat dit jou te veel uit die sak jaag. Moenie jou hele huis verhit nie. Verhit eerder net die vertrekke wat jy gereeld gebruik en maak die deure na ander vertrekke toe.

Hou gordyne en blindings in die dag oop om die natuurlike sonlig en hitte in te laat. Maak hulle saans toe om die hitte binne te hou.

Insuleer jou dak met hernubare of herbruikbare nie-toksiese materiale om maksimum hitte te behou.

Vloere wat van steen of beton gemaak is absorbeer hitte deur die dag en stel dit geleidelik in die nag vry.

 

© 2024 Die/The Bronberger