Print E-mail
News - Artikels
Monday, 21 March 2016 08:01
Untitled Document

Dit is deesdae wettig om krimpvarkies as troeteldiere aan te hou. Jy mag egter net die uitheemse soort, die piepklein en peperduur dwerg krimpvarkie, wat in aanhouding geteel word, aanhou en nie die plaaslike soort nie.

Volgens die Nasionale Raad vir die Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is dit onwettig om inheemse krimpvarkspesies aan te hou, daarmee te teel of met hulle handel te dryf. Die Suid-Afrikaansekrimpvarkie, Atelerix frontalis, is ‘n beskermde spesie wat nie as ‘n troeteldier aangehou mag word nie.


‘n Jong dwerg krimpvarkie

Geen permitte is nodig om die uitheemse dwerg krimpvarkie, Atelerix albiventris, aan te hou nie. Tog het jy ‘n permit nodig om hulle in te voer, gewoonlik vanaf Europa of midde-Afrika. As jy ‘n plaaslik geteelde dwergie koop, ruk dit jou sak met enigiets tussen R1 000 tot R2 500 elk en meer as R5 000 vir ’n teelpaar. Hulle teel stadig aan en ’n werpsel bestaan gewoonlik uit vier kleintjies.

Dit is maklik om die verskil tussen die twee soorte krimpvarkies te sien: Die inheemse krimpvarkie het ‘n kenmerkende swart gesiggie en sy penne is donkerder en effens groter as dié van die dwerg krimpvarkie. Die dwergies is gewoonlik gespikkeld of wit (albino) en het korter gesiggies en lywe en hulle pennetjies is sagter.

Die krimpvarkie kry sy naam omdat hy homself oprol as hy bedreig word. As ‘n krimpvarkie veilig voel, sal sy penne platlê. As hy onseker is oor ‘n situasie sal hy net die penne op sy kop lig, maar as hy kwaad of bang is, sal al sy penne regop staan. As ‘n mens naby so ‘n bang krimpvarkie kom, sal hy homself in ‘n balletjie oprol.


Dié vlakreliëf op die mure van die katedrale in Amiens, Noord-Frankryk, is ‘n grafiese interpretasie van ‘n Bybelteks, Sefanja 2:14, wat na die krimpvarkie verwys

Troeteldier
Telers sê dat krimpvarkies die ideale troeteldier is vir mense wat allergies is vir honde en katte. Hulle vreet insekte, maar kom glo klaar met geblikte katkos en vrugte, en verg nie baie aandag nie.

Daar is ander wat glo dat krimpvarkies glad nie geskikte troeteldiere is nie omdat hulle nagdiere is en dat mense hulle natuurlike ritmes versteur deur in die dag met hulle te speel, wat hulle heel geniepsig kan maak. In die nag word hulle in ’n onnatuurlike omgewing met kunsmatige beligting aangehou waar hulle van verveling kan vrek.

Hulle is baie energiek en baie eienaars sit ‘n trapwiel in die hok. Eienaars wat afstande meet, sê dat die dwergies rondom agt kilometers ‘n nag loop en kan tot 16 km per uur hardloop.


Die Suid-Afrikaanse krimpvarkie, Atelerix frontalis

In die natuur hiberneer die dwergies in die winter, maar nie in aanhouding met gereguleerde temperatuur nie. As die dwergies nie dikwels hanteer word terwyl hulle nog jonk is nie, kan hulle nie later by mense aanpas nie. Hulle gewig moet fyn dopgehou word en dit is nie altyd maklik om ‘n veearts te kry wat eksotiese diertjies kan behandel nie.

Eienaars sê dat ‘n krimpvarkie saggies spin soos ‘n kat of selfs fluit as hy bly is. Hy sal hyg, snork of nies as hy onseker is, blaas of kliek as hy ‘n mens wil wegjaag en gil as hy bang is.
Net soos honde of katte, maak hulle allerhande bewegings en geluide as hulle droom.
‘n Dwerg krimpvarkie lewe vier tot ses jaar.


‘n Twee zloty-muntstuk uit Pole wys ‘n krimpvarkie en haar kleintjies
.

‘n Piouter bord uit die 15e eeu wys ‘n krimpvarkie met kroon, Louis XII se persoonlike embleem, en Fleur de Lys-patroon

Spesies
Krimpvarkies kom voor in Asië, Afrika, Europa en Brittanje, maar nie meer in Amerika nie. Tog is daar onlangs in uitgrawings in Kanada ‘n 52 miljoen-jaar-oue fossiel van ‘n krimpvarkie gevind.

Daar is 14 spesies en vier genera krimpvarkies. Hulle is na verwant aan die skeerbekmuis en, al lyk hulle baie na mekaar, glad nie verwant aan die ystervark nie. Ander krimpvarkie-verwante spesies sluit die tenrek in, ‘n pen-bedekte diertjie wat op Madagaskar voorkom, sowel as die harige krimpvarkies van Suid-oos Asië, wat maanrotte genoem word.


Die Egiptenare het afbeeldings van krimpvarkies gemaak

Die krimpvarkies van Afrika en Europa kom uit dieselfde gene-poel, maar het net ander aanpassings gemaak om te kan oorleef. Krimpvarkies uit die noordelike halfrond het aangepas in ‘n koue gebied en het begin leer om te oorwinter. Die Afrika-spesies moes leer om in die verswelgende hitte te oorleef. In die somer soek die Afrika-krimpvarkies koel wegkruipplekke waar hulle in ‘n semi-beswyming ingaan. Dit gebeur gewoonlik tussen Januarie en Maart.


‘n Dwergie op sy oefenwiel

Anders as met die Europese krimpvarkie, sal hy steeds uit sy wegkruipplek uit kom in die koelte van die aand, maar sy aktiwiteitsvlak is baie verlaag en hy kan in die somer vir ‘n week aaneen slaap. 
In die winter is dit egter baie gevaarlik vir die Suid-Afrikaanse krimpvarkie om te lank aaneen te slaap.

As hulle langer as 72 uur slaap, gaan hulle dood van koue of van honger omdat hulle metabolisme nie genoeg verlaag nie.


‘n Antieke Egiptiese beeldjie

Legendes
Die krimpvarkie is eeue gelede heilig verklaar in Sjina. In die eerste eeu het Pliny, in sy ‘Historia Naturalis’, vertel dat krimpvarkies appelbome uitklim, die appels afstamp en dan op die appels rol sodat hulle stewig in die penne vassteek en maklik vervoer kan word.

Selfs Aristoteles het geskryf van Echinus, die krimpvarkie wat van een muur na ‘n ander volgens die windrigting beweeg. Albertus Magnus, ‘n Dominikaanse geleerde uit die 13de eeu, het voortgebou op Aristoteles se opmerkings en aangevoer dat krimpvarkies windrigting kan aandui.


Die krimpvarkie simboliseer die Venesiese Erizzo koninklike familie

Hy het gesê dat hulle skuilings vier uitgange het en dat die krimpvarkie, selfs voor die wind van rigting verander, die nodige uitgang sal toemaak om ‘n trek in sy skuiling te verhoed.

Vir die Romeine was die krimpvarkie ‘n lente-voorspeller. As die krimpvarkie op 2 Februarie uit sy oorwintering wakker word en sy eie skaduwee sien, beteken dit dis heldermaan en nog ses weke winter lê voor.

Middeleeuse Britse boere het geglo dat krimpvarkies melk steel deur koeie in die nag leeg te suig. Dié storie is so ernstig opgeneem dat die Elizabethaanse parlement in 1566 ‘n drie-pennie prys op die kop van elke dooie krimpvarkie gesit het.


‘n Dwergie slaap in sy hok

Brittanje het egter vandag streng wetgewing om krimpvarkies te beskerm. Die bekendste Britse krimpvarkie-hospitaal is vernoem na ‘Mrs Tiggy-winkle’ na aanleiding van Britse outeur en illustreerder Beatrix Potter se verhaal oor ‘n krimpvarkie.


Die familiewapen van Alexander Józef Lisowski (1580–1616)

Talisman
Krimpvarkies word in Afrika, dele van Engeland en Europa geëet. Blykbaar word hulle in klei gerol en binne-in die vuur gebak. Die gebakte klei word dan afgehaal, wat die krimpvarkie se penne uitruk.

In Oos-Afrika word die vel of penne van die witpens-krimpvarkie as ‘n vrugbaarheid-talisman beskou. As so ‘n vel op saad gesit word voor dit gesaai word, sal dit glo ‘n vrugbare oes tot gevolg hê.

In Europa het hulle geglo dat diegene wat ‘n krimpvarkie eet, genees kan word van allerhande siektes – van melaatsheid tot koliek, pitswere, nierstene en swak sig. ‘n Vertaling van dokumente uit die middel-14de eeu dui aan dat krimpvarkievlees die maag versterk, watersug genees en die enigste geneesmiddel vir elefantiase (olifantsiekte) is.

Die Sigeuners van Europe eet vandag nog krimpvarkies as ‘n teenmiddel teen vergiftiging en bose towerspreuke.

 

© 2024 Die/The Bronberger