Skerp toename in lokvalle op stil paaie Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 June 2021 05:47
Untitled Document

Al hoe meer motoriste word snags in lokvalle gevang waar skerp voorwerpe op paaie geplaas word om bande te vernietig. Hulle word beroof as hulle tot stilstand kom.

Die sogenaamde “spike” bendes gebruik deesdae twee voertuie. Volgens AfriForum se veiligheidskoördineerder, Llewellyn Hemmens, was die booswigte voorheen in een voertuig en het gewoonlik so 100 meter van die plek waar hulle die skerp voorwerpe geplaas het, parkeer.

Toe kon slagoffers met stukkende bande stadig na veiligheid wegry. Nou gebruik die bendes ’n tweede voertuig wat die slagoffer agtervolg.

Woordvoerder vir die Tshwane Metropolisie, superintendent Isaac Mahamba, het berig dat die metropolisie se snelweg-eenheid patrollies doen en dat hulle K9-eenheid bekende probleempunte patrolleer.

Een so ’n patrollie het ’n dodelike nadraai gehad toe ’n polisiebeampte van die Boschkop-polisiestasie deur ’n verdagte doodgeskiet is. Twee beamptes van Boschkop was net voor 1 vm op 24 Mei besig met ’n patrollie op Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) naby die Ou Bronkhorstspruitpad, toe hulle ’n wit VW Polo sonder nommerplate gesien het.

Volgens nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Vish Naidoo, het die polisiebeamptes aangedui dat die bestuurder moet stilhou en het hulle na die Polo toe gestap. Twee verdagtes het uit die Polo geklim en albei polisiebeamptes is geskiet en hulle vuurwapens is afgeneem.

Die 28-jarige konstabel Atlegang Nkgoeng is op die toneel dood en die 34-jarige konstabel Percy Saimane is hospitaal toe geneem met ’n skietwond aan sy been. Dié twee is gevind deur Tshwane metropolisie-amptenare en ander SAPD offisiere, wat ook die gebied gepatrolleer het.


Die skerp voorwerpe word in plastiese sakke weggesteek
Foto: Verskaf

Boschkop
Adjudant-offisier Wynand van der Merwe van die Boschkop-polisiestasie se landelike beveiligingseenheid bevestig dat daar ’n vlaag rooftogte op die paaie oos van Pretoria is. Hy sê dat die gebied naaste aan die Boschkop-polisiestasie wat deurloop, die N4-Oos snelweg en die Ou Bronkhorstspruit pad (R104) is vanaf die Simon Vermooten-afrit tot by die Valtaki-afrit.

Wynand beveel aan dat mense so ver as moontlik moet vermy om na donker op die paaie te ry. “As jy wel moet ry, ry teen ’n laer spoed en kyk vir voorwerpe in die pad. Moenie stop as jy oor ’n voorwerp gery het nie. Ry aan tot by ’n veilige verligte plek. Dit is beter om nuwe wiele te kry as wat jy jou en jou gesin se veiligheid in gevaar stel.”

“Die rowers werk gewoonlik in groepe van vier tot agt mense en hulle is gewapen. Hulle skroom nie om te skiet nie. Die vlaag rooftogte is nie net tot dié gebied beperk nie, so hou dit in gedagte as jy op enige verlate pad in die aand ry,” sê Wynand.


Skerp voorwerpe wat deur lede van die Boschkopse polisie gevind is
Foto: Adjudant Offisier WL van der Merwe

Gebied
Gautengse Verkeerspolisie woordvoerder, Sello Maremane, sê die misdadigers beweeg van een gebied na die ander en konsentreer op stil paaie om motoriste se kontant en besittings te steel. Hy sê dié insidente gebeur tussen 6 nm en 4 vm.

Op Vrydagaand 4 Junie het die polisie ’n vermeende lokvalsteller op die N1-snelweg doodgeskiet. Volgens konstabel Bonhle Rahatji, woordvoerder vir Tswhane-polisie se blitspatrollie, was daar ’n skietgeveg tussen die verdagtes en die polisie se snelweg-patrollie afdeling en ’n private sekuriteitsmaatskappy. Bonhle sê dat drie verdagtes weggekom het.

Cullinan Gemeenskappolisiëring (GPF) woordvoerder, Karen Yssel, vertel dat daar baie sulke gevalle is op die stil paaie in dié gebied, soos die R513 (Pretoria-Cullinan-pad) en R515 (Cullinan-Kemptonparkpad).

Karen sê dat die polisie, wat die R513 gepatrolleer het, onlangs in ’n skietgeveg met ’n bende betrokke was toe hulle op ’n noodroep gereageer het. Die verdagtes het in ’n voertuig weggekom.

Sy sê dat dié paaie deur die polisie, veiligheidsmaatskappye en GPF-lede gepatrolleer word, maar dat dit onmoontlik is om alle paaie elke minuut van elke nag te patrolleer. “Die bendes is baie goed georganiseer en beweeg baie vinnig met voertuie om verskillende dele van die paaie te teiken,” sê sy.


Voertuie se bande word deur die skerp voorwerpe beskadig
Foto: Verskaf

Bronkhorstspruit
Llewellyn Hemmens sê dat tot vyf sulke voorvalle onlangs in een nag op die N4-Oos snelweg in die Bronkhorstspruit-omgewing aangemeld is. AfriForum het ’n 24-uur noodnommer geskep en Llewellyn sê dat dié nommer binne die eerste rukkie 300 tot 400 oproepe ontvang het. Hy raai motoriste aan om ’n pin-ligging na familie en plaaslike veiligheidsgroepe te stuur as jy in so ’n lokval beland.

Adjudant-offisier Wynand van der Merwe sê die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om alle voorvalle by jou naaste polisiestasie aan te meld en ’n saaknommer te kry. “Jy is nie verplig om by die polisiestasie waar die voorval gebeur het, die saak te maak nie,” sê hy.

“Dit is van groot belang dat die voorvalle by die polisie aangemeld word sodat die data verkrygbaar is en dat nodige operasies en personeel na sulke gebiede ontplooi kan word. Dit kan slegs gebeur as die gemeenskap die polisie bystaan en alle voorvalle aanmeld. Boodskappe op WhatsApp-groepe is nie voldoende nie,” sê Wynand.

Skakel die Boschkop-polisiestasie by 071-675-7350 of 012-802-8201. AfriForum se nommer vir noodbystand op die N4-Oos snelweg is 083-271-6887 vir Rayton en Cullinan en 066-246-8198 vir Bronkhorstspruit.

 

© 2024 Die/The Bronberger