Wapadrandse substasie gaan herbou word Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 June 2021 05:30
Untitled Document

Die Wapadrandse krag-substasie gaan oorgebou word. Stad Tshwane se hoof van personeel, Jordan Griffiths, het bevestig dat die metro uiteindelik die R77 miljoen versekeringsuitbetaling vir skade in die 2018 brand, ontvang het.

Dié krag-substasie het op 10 Julie 2018 uitgebrand en groot gedeeltes van Pretoria se ooste, vanaf Wapadrand, Equestria, Silver Lakes en Faerie Glen tot Shere, Lombardy, Olympus en dele van Zwavelpoort, is dae lank sonder krag gelaat.

Jordan Griffiths het in Mei berig dat die metro werk aan ’n tender om die substasie te herbou met genoeg kapasiteit om die groeiende aanvraag na elektrisiteit in Pretoria se oostelike voorstede te hanteer.


Die Wapadrandse krag-substasie in vlamme gehul op 10 Julie 2018
Foto: @CityTshwane/Twitter

Burgemeester Randall Williams het gesê dat die tender in Desember toegestaan sal word en dat bouwerk in 2022 sal begin. Hy het gesê dat die substasie heeltemal oorgebou sal word omdat dit gebou is toe daar nie besef is hoeveel Pretoria-Oos gaan groei nie. Daar word beraam dat die herbouingsproses in 2024 klaar sal wees.

Die Wapadrandse substasie is vir jare reeds ’n probleem en laat groot gedeeltes van Pretoria-Oos gereeld vir lang rukke sonder elektrisiteit.

 

© 2024 Die/The Bronberger