Wilde jaagtog deur Garsfontein Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 21 May 2021 02:55
Untitled Document

Drie mans is in hegtenis geneem na ’n wilde jaagtog en skietery in Garsfontein op 29 April.

Die jaagtog het begin toe die mans glo in Faerie Glen probeer inbreek het. Hulle is verjaag en het in ’n wit Audi op vlug geslaan. Brinant-veiligheidsmaatskappy se nommerplaat-kameras het die Audi se nommerplaat afgeneem en daar is vasgestel dat dié motor in verskeie huisrooftogte gebruik is.

Die verdagtes het in Garsfontein se rigting gevlug en is deur die veiligheids-onderneming se taktiese reaksie motorfietseenheid agternagesit. Hulle is in Jacquelineweg gevind en het op die beamptes begin skiet toe hulle agterkom dat hulle gevolg word. Die maatskappy se reaksiebestuurder en taktiese-reaksiebestuurder het uit die teenoorgestelde rigting gekom en daar is op hulle ook losgebrand.


Die verdagtes is by die kruising van Delfilaan met Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) tot stilstand gedwing
Foto: Brinant

Die verdagtes is by die kruising van Delfilaan met Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) tot stilstand gedwing. Een van hulle is ernstig gewond en is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem.

Polisiebeamptes het twee ongelisensieerde vuurwapens in die voertuig gevind sowel as inbraaktoerusting en elektroniese huishoudelike goedere, wat vermoedelik gesteel is, sê polisiewoordvoerder, kaptein Dave Miller.

Daar is vasgestel dat die Audi in Maart in ’n huisroof gesteel is. Dave sê dat hulle die moontlikheid ondersoek dat dié verdagtes met ander misdade in Pretoria-oos verbind kan word.

 

© 2024 Die/The Bronberger